Local news

Elke sent word nou omgedraai

Die prys van basiese voedsel is deesdae verbysterend.

Saam met die maandelikse prysstygings in brandstof en hoë elektrisiteitskostes, kan baie inwoners nie meer kop bo water hou nie.

Só sê Desirée van der Walt, kiesafdelinghoof en lid van die provinsiale wetgewer vir die Demokratiese Alliansie (DA), wat op Maandag 7 November hul nasionale veldtog teen hoë voedselpryse voortgesit het.

Met die tussenverkiesing in Bela-Bela wat op Woensdag 16 November plaasvind is elke party in die dorp druk besig om stemme te werf. Hoewel die tussenverkiesing belangrik is, is die land se swak ekonomiese klimaat en stygende armoede deesdae op almal se lippe.

Rika Kruger, DA-kandidaat vir Wyk 1, is al vir meer as vyf jaar in die dorp besig om arm huisgesinne by te staan en op te hef. Sy help tans meer as 30 huisgesinne weekliks met kospakkies.

Sy dien sedert 2021 as raadslid op die Bela-Bela-munisipaliteit se maatskaplike ontwikkelingskomitee.

Die DA het Maandag se geleentheid gebruik om voedselpakkies aan hulpbehoewendes te gee.

Van der Walt sê mense kan nie hul lewenskoste dek met die skamele toelae wat hulle maandeliks ontvang nie.

Statistiek toon dat die lys van hulpbehoewendes in Bela-Bela sedert die Covid-19-pandemie aansienlik gegroei het. Dit plaas meer druk op die regering om finansiële bystand te bied.

Dit is waarom die DA ’n veldtog loods om pres. Cyril Ramaphosa te dwing om die juk van stygende lewenskostes op alle landsburgers te verlig.

Die DA eis onder meer dat brandstofheffings verminder moet word en dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) op noodsaaklike produkte geskrap word.

Die produkte sluit in hoender, beesvleis en sekere geblikte voedselprodukte waarsonder die meeste huishoudings nie kan klaarkom nie.

Van der Walt sê voorts dat die regering invoertariewe vir sekere kossoorte moet verminder en onnodige skenkings na die buiteland moet staak.

“Rika Kruger het tydens die Covid-19-pandemie aangehou om mense in nood by te staan. Sy onderneem om in Wyk 1 die register van hulpbehoewendes op te dateer en in die toekoms aan meer gesinne bystand te bied om hul basiese behoeftes aan te vul.”

  • Mense wat voel dat lewenskostes onrealisties hoog is, kan die DA se petisie teken by www.cutfoodcosts.co.za(.)

Related Articles

Back to top button