Schools

Nylies beloon hul toppresteerders

Leerders van Hoërskool Nylstroom se harde werk is die afgelope jaar ryklik beloon tydens die skool se prysuitdeling wat op Vrydag 21 Oktober gehou is.

Spesiale erkenning is gegee aan leerders wat uitsonderlik in sport en kultuur presteer het.

Lesedi Nkgodi (gr.12) het die trofeë ontvang vir die beste kultuurprestasie, asook beste redenaar nadat sy uitstekend gevaar het in die landwye ATKV-redenaarskompetisie. Slim skuiwe op die skaakbord het aan Tiisetso Selema (gr.10) die prys van beste skaakspeler besorg terwyl Elné Joubert (gr.12) vir haar toneelspel beloon is.

Daar was talle Nylies wat stof op die atletiekbaan opgeskop het. Anri Briel (gr.8) en Wihan Bezuidenhout (gr.9) is aangewys as die beste junioratlete terwyl Tariro Nkosi (gr. 11) en Daniël Briel (gr.11) as beste senioratlete beloon is.

Heinrich Steffen saam met Anton du Plessis (skoolhoof).
Tariro Nkosi saam met Anton du Plessis, skoolhoof.

Tariro het ook die toekenning vir beste sportvrou van die jaar ontvang. Megan van der Merwe (gr. 9) het die trofee as beste langasem-landloopatleet verower.

Die krieketballe is ook met mening gemoker en Johan Bosch (gr. 8) en Lukas van der Merwe (gr. 10) is as beste spelers aangewys. JC Meintjies (gr.10) is die beste gholfspeler.

Die hokkiebokkies het vanjaar uitstekend gevaar en Anri Loots (gr. 9) en Lindi Loots (gr.11) het die trofeë ontvang vir beste junior- en senior hokkiespelers.

Mieke Mienie (gr. 9) en Sybrie van der Merwe (gr.11) het toekennings ontvang as beste junior- en senior netbalspelers.

Anika Holtzhausen (gr.12), vanjaar se hoofmeisie, het die trofee ontvang vir veelsydigste sportmeisie van die jaar vir haar prestasies in tennis, netbal en atletiek. Sy is ook aangewys as beste meisies tennisspeler.

Johan Bosch (gr.8) is beloon as beste seunstennisspeler en die sokkertrofee het aan Tsimega Sebonego (gr.11) gegaan.

Die mededinging op die rugbyveld was taai, maar Heinrich Steffen het met die louere weggestap as beste senior rugbyspeler, asook veelsydigste sportman van die jaar. Wihan Bezuidenhout (gr.9) is aangewys as beste junior rugbyspeler.

Related Articles

Back to top button