Local news

VF Plus bankvas agter Cloete

Die VF Plus het op Saterdag 22 Oktober hul verkiesingsveldtog in Bela-Bela voortgesit om potensiële kiesers te oortuig om vir hul kandidaat, Jeedee Cloete, te stem in die komende tussenverkiesing in Wyk 1.

Kiesers kon op die dag ook kennis maak met die party se leier, Pieter Groenewald.

Die Pos het met Groenewald gaan bladskud en wou weet watter rol ’n raadslid in die gemeenskap speel.

“Die benadering wat ekself in die parlement volg wanneer ek ’n saak wil stel, is om respek, asook wedersydse respek, wat betref kultuurverskille te hê. ’n Raadslid moet hul saak met respek teenoor mede-raadslede stel, maar moet ook ferm kan optree; nie aggressief nie. As jy opstaan en praat, moet jy die korrekte feite hê.”

Groenewald sê geen amptenaar moet hulself as verhewe bo ander sien nie, maar moenie noodwendig vriende met die opposisie wees nie.

“As jy amptenare erkenning gee, kan jy goeie samewerking verwag, maar as ’n raadslid ’n probleem aangemeld het, moet hulle opvolg-
werk doen en enige nuwe verwikkelinge aan die inwoners deurgee.”

Hoewel sekere probleme nie dadelik opgelos kan word nie, bly kommunikasie tussen die raadslid en die gemeenskap uiters belangrik, al is daar soms amptenare wat inligting moedswillig weerhou, het hy gesê.

“Kiesers moet in die komende verkiesing bepaal watter kandidaat in hul beste belang sal optree. Hulle kan natuurlik die kandidaat meet aan wat reeds gedoen is en of daar werklike verbetering in hul dorp plaasgevind het danksy daardie kandidaat.”

“Jeedee ken die gemeenskap en ken die probleme, asook mense se verwagtinge. Hy woon in die wyk en ry self deur die slaggate.”
Groenewald het voorts gesê die publiek moet veral nou ’n kopskuif maak oor politiek en betrokkenheid.

“Die gemeenskap is baie apaties. Ek hoor by baie mense dat hulle genoeg gehad het van politiek, maar dan sê ek dat hulle moet onthou dat die politiek nooit met hulle sal klaar wees nie.”

Indien ’n gemeenskap nie stappe neem, betoog, klagtes lê of uitreik vir kommentaar nie, sal die ANC geen kennis neem van die probleme in daardie gemeenskap nie, het hy gesê.

“Die ANC in die parlement behou die mag met ’n 58% meerderheid, maar hulle is daar geplaas deur slegs 27% van die nasionale stemme. ’n Verkiesing bly ’n vennootskap tussen die party, die kandidaat en die gemeenskap en daarom moet mense betrokke raak.”

“Mense kan tydens erge diensleweringsprobleme dreig om belasting te weerhou, maar al wat gaan gebeur is die munisipaliteit wat hul dienste opskort. Mense wat gewelddadig raak, word in hegtenis geneem. Daarom moet mense binne die reëls optree en op dié manier spiere wys om resultate te kry.”

Groenewald meen dat die gemeenskap sterk genoeg is deur hul eie stemme te laat geld. Hulle moet ’n bewustheid in hulself kweek en glo dat hulle in samewerking met die gekose raadslid die verval in hul dorpe kan stop.

Related Articles

Back to top button