Crime

Leiers maak stem dik by protesoptrede

Die boere se protesoptog Maandag (24 Oktober) in Roedtan het ook aan rolspelers in die landboubedryf die geleentheid gegee om tussen die skare te beweeg en hul steun te wys.

“Ek is hier as boer en ook om die gemeenskap te ondersteun. Die wêreld moet gewys word wat hier gebeur. Boere wat kos op die tafel moet sit, word geteiken. Die polisiediens is te klein en die mannekrag ontbreek. Die regering het nie die wil om plaasmoorde te beheer nie,” het Henry Geldenhuys, president van TLU SA, aan Die Pos gesê.

Hy het ook boere versoek om deel te word van veiligheidsstrukture.

TLU Oos se streekbestuurder, Ronnie Schilling het al die pad van Ermelo gekom.

“Geleenthede soos hierdie moet bygewoon word om die saak te versterk. Die regering moet nou sien dat ingryping deur die president nodig is,” het hy gesê.

“Ek is hier, want ek is ’n boer en ons gaan nie meer duld dat boere voëlvry verklaar word nie, “het Henk van de Graaf van Bela-Bela en TLU SA se streeksvoorsitter Noord en lid van TLU SA se uitvoerende komitee gesê.

Afriforum se gemeenskapsveiligheidshoof, Raymond Hols, meen boere moet hul veiligheidsplanne inoefen en sterk strukture daarvoor vestig.

“Ons het ongelooflike ondersteuning gekry en dit is so ’n voorreg om lid van die Potgietersrus DLU te wees,” het Hendrik Botha, ondervoorsitter van die DLU en voorsitter van die Roedtan-boerevereniging, gesê.

Plaaswerkers wat teenwoordig was, het hul sterk uitgespreek teen die onlangse sinnelose moord op Nico Janse Van Rensburg.

“Nicky het altyd vir ons melk gegee en nou is hy dood. Die moordenaars moet die doodstraf kry,” het een van die werkers, wat anoniem wou bly, aan Die Pos gesê.

TJ Maré, nasionale president van die 911-riders van Mbombela, was daar op sy ysterperd. Hy is al twee keer deur Suid-Afrika met sy motorfiets om bewusmaking vir plaasmoorde te skep.

Die protesgangers het by NTK se kantoor saamgetrek waar ds. Jan Claasen van die Hervormde Kerk in Mookgophong die dag se verrigtinge met skriflesing en gebed afgesluit het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button