Local news

Opleiding vir plaaswerkers ’n sukses

Wildlife Ranching van Suid-Afrika (WRSA) is ’n organisasie wat ten doel het om die belange van wildsplaasboere te verteenwoordig.

Hulle lede speel ’n integrale rol in die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne en die bewaring van bedreigde spesies.

Die takke Waterberg en Mookgophong het op Woensdag 19 Oktober ’n opleidingsdag by Castle de Wildt, net buite Modimolle, gereël.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het die byeenkoms geopen en belanghebbendes toegespreek. “Toerisme en landbou is die twee grootste ekonomiese dryfvere in ons omgewing en daarom is dit uiters noodsaaklik om in die ontwikkeling van werkers te belê,” het sy gesê.

Louis Malan (WRSA) het aan Die Pos vertel dat die twee takke kragte saamgesnoer het om die basiese opleiding vir plaaswerkers aan te bied. Hoewel die opleiding gratis vir lede is, kon nie-lede ook hul werkers bring teen R250 per persoon, wat ontbyt en middagete ingesluit het.

Die sowat 150 werkers is in drie groepe verdeel en het die onderskeie kursusse voltooi. Werkers kon kies tussen basiese naaldwerk, aanplant en kweek van groentetuine, span van grensdrade, installasie en herstel van watertenks en pype, asook basiese onderhoud van plaasimplemente, masjienerie en voertuie. Malan het verduidelik dat die aanbieder van elke kursus praktiese demonstrasies gee waarna die werkers hul nuwe vaardighede self moet toepas. “Ons is dankbaar vir elke kursusleier wat hul kundigheid en ondervinding met die werkers gedeel het,” het hy gesê.

Die plaaslike slangkenner en –vanger, Theunis Victor, het tydens middagete ’n demonstrasie gegee waar mense slange kon vashou en meer leer oor giftige slange soos swartmambas en pofadders wat volop in die Waterberg is.

Sertifikate is na afloop van die dag se opleiding aan elke werker oorhandig.

Belangstellendes kan vir Ankie Stroebel bel by tel. (012) 335 6994 of 082 441 1822 of e-pos stuur na members@wrsa.co.za vir meer inligting oor toekomstige opleiding.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button