Local sport

Water spat by Bosveldmyl

Die water het die afgelope naweek behoorlik gespat by die Warmbad Bootklub se Fish Eagle Bay-dam waar die 19de Bosveldmyl-swembyeenkoms gehou is.

Die laaste byeenkoms het in 2016 plaasgevind. Verskeie onvoorsiene faktore soos droogte het gekeer dat meer byeenkomste daarna kon plaasvind. Die Covid-19-pandemie het verdere beperkings gebring.

Damvlakke het gelukkig sedertdien verbeter en ’n nuwe bestuur, onder die vaandel van die Bosveld Adventure Club, het toegesien dat dié gewilde byeenkoms uiteindelik weer kon plaasvind.

Volgens die organiseerders het 178 swemmers hul slag in die water gewys. Toeskouer kon vanaf die damwal elke beweging om die dam dophou.

Deelnemers kon aan die 3 km- (die Myl), 1,6 km-, 800 m-, 400 m of 200m-swemitems deelneem.

Dié drie swemmers het in die 1.6km swemitem onder die top drie in hulle afdeling geeïndig. Ashley Scholtz (eerste in die 14-30 jaar-afdeling), Kayla Kleynhans (eerste in die o.13-afdeling) en Karla Grobler (tweede in die 14-30 jaar-afdeling).

’n Gemengde ouderdomsgroep vir mans en vroue, seuns en meisies, het die twee langafstande op dieselfde tyd aangedurf.

Wat hierdie jaar se byeenkoms spesiaal gemaak het, was dat daar 40 deelnemers was waar die pa, ma of kinders saam aan die items deelgeneem het.

Die swemmer wat eerste die 1,6 km-item voltooi het, was Jeandré Kleynhans van Pretoria (17) wat dit binne 11:19 in die 14–30 jaar-afdeling voltooi het.

Verder was die topswemmers in die onderskeie ouderdomsafdelings Bongani Tshabalala (12:38), Karla Grobler (12:47), Niel du Plessis (12:50), Gizelda Strauss (13:57), Anmari Greeff (14:22), Buhle Tshabalala (15:58), Anneke Pieterse (16:29), Shardone Mostert (18:28), Lucas Jansen van Nieuwenhuizen (19:03), Andreas Peens (19:38), Winton Myers (21:11), Gerhard Grobler (21:39), Ashely Scholtz (24:17) en Kayla Kleynhans (24:43).

Die topdrie swemmers het kontantpryse en medaljes ontvang. Ander deelnemers het medaljes vir hul deelname gekry.

Die dag is gekenmerk deur die gesellige samesyn op die walle van die dam waar oud en jonk saamgekuier het. By die stalletjies is boerewors gebraai en allerlei lekkernye verkoop. Daar was ook genoeg koue drinkgoed om die dors in die erge hitte te les.

Die organiseerders is in hul noppies met die goeie terugvoer wat hulle ná die geleentheid ontvang.het. Die swemmers en ondersteuners was veral beïndruk met die netjiese opset van die bootklubgronde. Die vriendelike gesigte van die bestuur, helpers en uitstallers verdien ook ’n pluimpie.

“Dit was ’n groot sukses vir die aantal mense wat dit bygewoon het. Vir die gemeenskap was dit ’n naweek van uitspan en ontspan en die byeenkoms het swemmers vanuit Gauteng en selfs van Hoedspruit gelok. ’n Baie spesiale dankie aan elke bestuurslid en borg,” het Karolien Stein, hooforganiseerder gesê.

  • Die Nylrivier-sportfees word op Saterdag 26 November op die plaas Moorddrift buite Mokopane gehou. Daar is vroegoggend ’n Nyl-pretdraf van 8 of 4 km al langs die dam. Daar sal ook in die dam geswem word. Alle buitelugliefhebbers is welkom om die dag saam te kom geniet en hul vernuf in die Nyl-myl te wys. Daar is verskeie iems wat ook ’n halwe myl, 800 m en 400m insluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button