Municipal

Oplossings vir water op die tafel

Inwoners van Modimolle, Mookgophong en Vaalwater sit met die hande in die hare oor die voortdurende watertekort in hul dorpe wat vererger word deur voortdurende beurtkrag.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, waaronder dié dorpe val, is egter besig met daadwerklike stappe om watervoorsiening eersdaags te verbeter. Dit volg ná die strategiese beplanningsessie wat deur Christopher Mahlaule (direkteur van tegniese dienste) op Dinsdag 11 Oktober in Modimolle gehou is en deur al die betrokke afdelingshoofde en bestuurders van water, sanitasie, stormwater, elektrisiteit, paaie en vloot, bygewoon is.

Volgens die munisipale woordvoerder het hul beraadslaag oor terugvoer wat vanaf die gemeenskap ontvang is tydens die begrotingsvergaderings wat gedurende September en Oktober in al die wyke gehou is. Insette van raadslede en eksterne belanghebbendes soos Magalies Water en die nasionale departement van water en sanitasie, asook plaaslike ingenieurs, is aangehoor.

Die grootste knelpunt is tans die watertekort en planne is beraam om watervoorsiening te verbeter. Die aanlê van lopende water na huise in die townships is ook bespreek.


Reservoir-watervlakke soos op Sondag 16 Oktober:

MODIMOLLE:
• Reservoir A 30% (vanaf Magalies Water)
• Reservoir B 25% (dorp & sakegebied)
• Reservoir C 17% (Phagameng-township)
• Boorgate in werking: 3

MOOKGOPHONG:
• Reservoir dorp 36%
• Boorgate in werking: 6
• Watervoertuig beskikbaar

VAALWATER:
• Reservoir dorp 60%
• Reservoir 70% (Mabatlane-township)
• Boorgate in werking: 6
• Watervoertuig beskikbaar


Verteenwoordigers van die nasionale departement van water en sanitasie het tydens ’n oorsigbesoek in Mookgophong op Donderdag 13 Oktober en in Modimolle op Vrydag 14 Oktober die water- en rioolinfrastruktuur, asook watersuiweringsaanlegte, nagegaan. Hiermee wil die departement die plaaslike owerheid se sakeplanne vir die opgradering en verbetering van watervoorsiening, -suiwering asook riool infrastruktuur, verifieer voordat befondsing, in die vorm van munisipale toelaes (MIG), toegestaan kan word.

Marlene van Staden, burgemeester, het aan Die Pos gesê die opgradering van die ganse Donkerpoortdam-aanleg een van die projekte is wat aan die departement voorgelê is. Nog projekte sluit in die installering van ’n groter pomp by die Frikkie Geyser dam en die installering van kragopwekkers by reservoirs sodat water tydens beurtkrag steeds gelewer word. Die druktoring by Bosveldsig en die reservoir in Gholfstraat in Modimolle moet ook opgegradeer word.

Volgens Van Staden behoort hul teen einde Oktober te verneem watter projekte se befondsing toegestaan is.

Related Articles

Back to top button