Crime

Man beskadig historiese gedenkteken

Die graniet gedenkteken wat by die Bela-Bela-polisiestasie opgerig is ter nagedagtenis aan polisielede wat hul lewens tydens diens verloor het, is erg beskadig.

Die bekende baken, wat ’n plaat agterop het met die name van die oorledenes, is jare gelede deur Bafa-begrafnisdienste aan die stasie geskenk.

Volgens ’n polisiewoordvoerder het ’n man wat vermoedelik aan ’n geestessiekte ly die monument op Maandagaand 26 September beskadig. Die Pos verneem die man het teen ongeveer 00:30 by die polisiestasie opgedaag en die monument geteiken.

Volgens ’n woordvoerder het die polisiebeamptes wat aan diens was gespook en gespartel om die man te kalmeer. Hy was aggressief, het aanhoudend geskree en het ongekende weerstand gebied, vertel die woordvoerder.

’n Saak van saakbeskadiging is geopen, maar weens die man se geestestoestand is hy na ’n inrigting vir hulp geneem.

Die skade aan die monument beloop ongeveer R10 000. Die naamplaat word vir tyd en wyl in die polisiestasie bewaar.

Teen druktyd was daar nog geen planne vir die herstel van die gedenkteken nie.

Die polisie hou gewoonlik in Januarie elke jaar hul nasionale herdenkingseremonie om beamptes wat gesterf het, se nagedagtenis te eer.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button