Local news

Vierpotige vriende verras met verjaarsdaggeskenke

Troeteldiere lê Elrine van Staden van Mookgophong baie na aan die hart en daarom was haar verjaardag op Vrydag 16 September baie spesiaal.

Sy het al haar vriende en vriendinne gevra om honde-of kattekos as geskenke te bring sodat sy dit kan skenk aan die Naboomspruit Dierebeskermingsgroep.

“Elke keer as ek ’n verwaarlose hond sien, breek dit my hart. Ek het al ses sulke honde en twee katjies aangeneem. Hulle was bang en in so ’n swak toestand dat dit lank geneem het om hulle vertroue te wen,” het sy aan Die Pos vertel.

Sy was ook die eerste persoon in Mookgophong wat ’n hondjie by die Naboomspruit Dierebeskermingsgroep aangeneem het.

Miekie Oberholtser, voorsitter van die groep, sê hulle is afhanklik van donasies uit die gemeenskap om opteldiere te versorg.

“Hierdie gebaar van Elrine was so wonderlik en het ander ook aangemoedig om te help.”

Van Staden daag inwoners uit om haar voorbeeld te volg en die groep te ondersteun.

Oberholtser sê mense wat met troeteldiere teel sonder om geregistreer te wees by ’n ordentlike organisasie, staan bekend as “back yard breeders”. Weens oor- of inteling kan baie hondjies met slegte gesondheidstoestande of gebreke gebore word. Indien honde nié hul nodige inentings op ses weke ontvang nie, kan die Parvo-virus oorgedra word na gesonde honde. Dit bly die eienaars se verantwoordelikheid om hierdie hondjies te laat inent.

Ongesteriliseerde tewe wat gedek word staan ook ’n kans om oordraagbare veneriese kanker te kry. Dit kom meestal voor by jong aktiewe tewe en reuns wat vry rondloop. Dit is ’n hoogs aansteeklike siekte. Honderde hondjies en katjies oorstroom tans die mark terwyl diere-instansies propvol is omdat daar nie meer genoeg huise vir al die ongewenste werpsels is nie. Dit gebeur dan dat genadedood dikwels die enigste uitweg is, sê Oberholtser.

Sy wys ook daarop dat honderde diere gratis uitgedeel word sonder dat daar vooraf behoorlike huisondersoeke gedoen word. Die diere beland dan in die verkeerde hande. “Hondegevegte is ook aan die toeneem. Hierdie siek en bose kringloop word gevoed deur mense wat weerlose diere misbruik vir eie gewin.

“Wees deel van ’n oplossing en nie deel van die probleem nie. Laat steriliseer asseblief julle diere,” het Oberholtser versoek.

Related Articles

Back to top button