Crime

Misdaad: Só staan sake in hof

Vier hofsake wat baie belangstelling in die omgewing uitlok, word tans in die Bela-Bela landdroshof aangehoor.

  • Die verdagte wat verskyn in verband met die moord op Marthinus en Elsie Richter, ’n egpaar van Dwaalboom in Thabazimbi, moet op Vrydag 21 Oktober in die hof wees.

    Die Richters is op Dinsdag 6 September deur ’n groep rowers by hul woning op hul plaas oorval.

    Marthinus is tydens die rooftog vermoor en Elsie is gehospitaliseer nadat sy erg aangerand is.

    Twee rowers het in die rigting van Bela-Bela met die Richters se gesteelde eiendom, wat hul Amarok-bakkie ingesluit het, gevlug.

    Danksy die veiligheidskamera-netwerk wat wyd in die Waterberg-omgewing opgerig is, is die mans in Bela-Bela op die hoek van Sutter- en Potgieterstraat voorgelê. Die polisie het een doodgeskiet en die ander gewond. Die gesteelde items is teruggevind.

    Die verdagte, William Doma, ’n buitelander, is reeds uit die hospitaal ontslaan. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat meer verdagtes betrokke was. Sover hul kennis strek was die verdagtes plaaswerkers wat vir die Richters gewerk het.

  • Die Bela-Bela-polisie het op Woensdag 31 Augustus op ’n woning in Robertsonstraat toegeslaan nadat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid te hore gekom het van dwelms wat vermoedelik by die huis vervaardig en versprei word.

    Die verdagte, Modestus Anyanwu, ’n buitelander, het na bewering vir die polisie probeer vlug, maar is gou aangekeer.

    Volgens die polisie is dwelms ter waarde van meer as R500 000 in houers in die tuin gevind. Die polisie het ook op laboratoriumtoerusting en voertuie beslag gelê.

    Daar word beweer dat die verdagte dwelms aan skoolkinders in die omgewing verkoop het. Anyanwu het op Maandag 10 Oktober in die hof verskyn waar hy sou aansoek doen om regshulp, asook vir borgtog.

    Maandag se uitslag was teen druktyd nie bekend nie.

  • Drie verdagtes wat met ’n string misdrywe in Augustus verbind word, wat onder meer die roof van polisiewapens insluit, verskyn ook eersdaags.

    Ayke Aramiada, Power Simba Majeza en Thabiso Seoketsa verskyn op aanklagte van roof, diefstal, huisbraak en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

    Hulle word verder verbind met sake van moord, poging tot moord en voertuigdiefstal.

    Volgens die polisie het hulle ook ’n skrikbewind in die Radium-omgewing in Masakhane gevoer waar hulle talle mense op een dag van hul selfone beroof het.

    Aramiada en Majeza is van Zimbabwe. Seoketsa is ’n Suid-Afrikaner.

    Hulle volgende hofverskyning is op Donderdag 13 Oktober.

  • Die man wat daarvan beskuldig word dat hy meisies van Hoërskool Warmbad geteister het, het weer in September in die hof verskyn.

    Die Pos weerhou sy naam totdat hy gepleit het op die aanklagte teen hom.

    Die verdagte is in hegtenis geneem nadat ’n skoolleerder ’n klag van seksuele aanranding by die polisie geopen het nadat die man haar glo tot in die skoolterrein gevolg het.

    Volgens die polisie het die man na bewering onsedelike boodskappe vir jong meisies gestuur. Die skoolbestuur het ’n klagte van betreding teen die man geopen en strenger maatreëls ingestel om skoolbesoekers tot die perseel toe te laat.

    Die hof het intussen aan die man borgtog van R3 000 toegestaan en hom gewaarku om op Dinsdag 1 November te verskyn.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button