Letters

Brief: Plaasmoorde: Feller aanslag op boere ná hofuitspraak oor ‘Kill the boer’-lied

Nog leë woorde en ʼn duidelike gebrek aan politieke wil om hierdie soort misdaad te prioritiseer, sal moontlik lei tot ’n situasie waar landelike gemeenskappe geregtigheid in hul eie hande sal neem.

Marcelle Maritz: VF Plus-LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Die VF Plus veroordeel die plaasaanvalle waarin Nicky Janse van Rensburg gedood en twee ander mense, ’n vrou en ’n seun beseer is, ten sterkste.

Met hierdie toevoegings tot die plaasmoord-statistiek is daar geen twyfel nie dat die aanslag op boere ná die hofuitspraak oor die struggle-lied “Kill the boer” in felheid toegeneem het.
Janse van Rensburg is vermoedelik Vrydagmiddag (7 Oktober) tussen 17:00 en 18:00 op ’n plaas buite Roedtan in Limpopo aangeval.

Ek het besoek afgelê by die slagoffer se woning en het verneem dat hy koelbloedig in die huis geskiet is.

Die huishulp het die vrou en die seun Saterdagoggend, vasgebind aan mekaar, in een van die vertrekke gevind.

Die erns van die situasie verg dat die regering nou gedwing moet word om plaasaanvalle en plaasmoorde tot prioriteitmisdaad te verklaar.

Nog leë woorde en ʼn duidelike gebrek aan politieke wil om hierdie soort misdaad te prioritiseer, sal moontlik lei tot ’n situasie waar landelike gemeenskappe geregtigheid in hul eie hande sal neem.

Die aanslag op boere is nie net tot nadeel van die boere, hul naasbestaandes en werkers nie, maar van die hele Suid-Afrika.

Die VF Plus doen ’n ernstige beroep op landelike gemeenskappe om self ook beheer te neem oor hul veiligheid en aan te sluit by georganiseerde veiligheidsstrukture in hul omgewing om hulself binne die raamwerk van die wet te beveilig en verdedig.

Die VF Plus spreek sy innige meegevoel uit met die familie van die oorledene en wens die oorlewendes ’n spoedige herstel toe.

Related Articles

Back to top button