Local news

Paramedikus gee raad oor slange

Lentetyd in die Bosveld maak enige buitelugmens opgewonde, maar hulle moet maar die grond onder hul voete dophou vir slange.

Andy Gill, bestuurslid van Lifemed-ambulansdienste, het aan Die Pos gesê dit is juis hierdie tyd van die jaar wanneer slange weer rondseil. Die hoër temperature beteken dat slange hul paarseisoen betree.

“Suid-Afrika beskik oor 166 verskillende slangspesies, waarvan 77 nie-giftig is. Tog is daar 29 wie se gif erge pyn kan veroorsaak en die ander 20 wat dodelike gevolge vir slagoffers kan inhou.”

In Limpopo is daar 78 spesies, waarvan nege pynlike en sewe dodelike byte het. Die gevaarlikste slange sluit in die swartmamba, wipneuskobra, Mosambiekse spoegkobra, boomslang, takslang, pofadder, berg-adder, horingadder, nagadder, stiletto-slang en skildneuskobra.

“Indien mense oor geen opleiding beskik wat hulle instaat stel om wilde slange te vang of hanteer nie, kan dit gebeur dat nie-skadelike slange met gevaarlike slange verwar word,” het Gill gesê.

“Die beste manier om ’n slangbyt te verhinder, is om die slang heeltemal te vermy. Sou mense ’n slang teëkom moet hulle dadelik stilstaan en dan wegbeweeg. Die slang sal gewoonlik ook wegbeweeg. Wanneer ’n slang in ’n vertrek gevind word, hoef ’n mens slegs die deur toe te maak, die gaping by die deur met ’n handdoek te bedek en ’n slangvanger te bel.”

Volgens Gill word mense in die meeste gevalle gebyt wanneer hulle probeer om ’n slang in ’n hoek vas te keer of selfs probeer om hulle dood te maak.

Gill se raad is om slagoffers van slangbyte dadelik na die naaste hospitaal te neem —verkieslik per ambulans. Die slagoffer word tydens die ambulansrit gestabiliseer.

Juwele en stywe klere moet dadelik verwyder word om te keer vir erge swelling. Omstanders moet probeer om die slagoffer so kalm en stil as moontlik te hou. Enige onnodige beweging of opgewondenheid kan maak dat die slanggif vinniger deur die persoon se lyf beweeg, het Gill gesê.

“Nie alle slangbyte benodig noodwendig teengif indien die slagoffer geen simptome toon dat hulle vergiftig is nie. Teengif kan ongelukkig self dodelik wees, omdat party mense allergiese reaksies kry. Daar is sekere hospitale wat glad nie teengif het nie, daarom moet die nodige vrae gerig word oor watter hospitaal dit in vooraad het en waarheen die ambulans die slagoffer moet neem.”

Gill het voorts gesê Suid-Afrika het slegs twee teengifmiddels — polivalent en monovalent-teengif.

Polivalent word spesifiek vir swartmamba-, groenmamba-, Jamesons-mamba-, Kaapse kobra-, wipneuskobra-, Mosambiekse spoegkobra-, boskobra-, pofadder-, gaboen-adder- en rinkhalsbyte toegedien.

Monovalent-teengif word vir boomslangbyte gebruik.

Vir Lifemed-ambulansdienste kan mense die noodnommer 082 040 5003, of die nasionale noodnommer 086 108 6911 skakel.

Related Articles

Back to top button