Local news

Brand laat egpaar dakloos

’n Verwoestende brand het die afgelope naweek die huis van die Jordaan-egpaar in Mookgophong in puin gelê en die gesin dakloos gelaat.

Ricus en Valerie Jordaan het op Vrydagaand 23 September om 20:30 wakker geskrik toe ’n brand in hulle dogtertjies, Ava (3) en Ilize (6), se kamer ontstaan het. Die egpaar huur die afgelope drie jaar hulle huis in 4de Straat.

Volgens Ricus het hulle genadiglik wakker geword van die rook en kon die kinders vir Valerie in die egpaar se aangrensende slaapkamer roep.

“Die buurvrou het dadelik die tuinslang vanaf haar kant aangegee, maar dit was reeds te laat,” het Bianca Putter, ’n vriendin wat eerste by die brandende huis opgedaag het, aan Die Pos gesê.

Putter het Kobus van Loggerenberg gebel wat die buurtwag in kennis gestel het. Hulle was vinnig op die toneel met waterkarre om hulp te verleen. Die brandweer is ook ontbied, maar het eers later opgedaag. Volgens een van die buurtwaglede, wat anoniem wil bly, het die waterkrisis in die dorp ook daartoe bygedra dat die vlamme nie maklik geblus kon word nie.

Die Jordaans het met die hulp van vriende en inwoners daarin geslaag om hulle yskas en wasmasjien te red.

Valerie Jordaan in haar huis wat Vrydagaand deur ’n brand verwoes is.

“Ons moet voor begin,” het Ricus verslae gesê.

Daar is dadelik op gemeenskapsgroepe gevra vir hulp vir die gesin wat selfs hul klere en kos verloor het. Die reaksie was groot en verskeie mense het hulp verleen. Die egpaar spreek hul dank uit teenoor almal wat hulle gehelp het.

Die oorsaak van die brand kon nog nie vasgestel word nie.

Related Articles

Back to top button