Municipal

Kandidate (wéér) reg vir verkiesingstryd

Die DA en VF Plus het die afgelope week hul kandidate vir die komende tussenverkiesing in Bela-Bela bekendgemaak.

Die verkiesing sal op Woensdag 16 November plaasvind.

Alles dui daarop dat hierdie weer — net soos tydens die 2021-munisipale verkiesing — waarskynlik ’n stryd tussen hierdie twee partye sal wees.

Die Pos het aan elk ’n paar vrae gestuur.

Jee Dee Cloete (VFPlus).

Jeedee Cloete, VF Plus kandidaat.

Hoe lank is jy al in politiek betrokke en hoekom?
Ek is nou bykans twee jaar amptelik by die VF Plus betrokke en dien tans as ’n raadslid in die Bela-Bela-munisipale raad.

Ek het besef dat ek ’n verantwoordelikheid het om aktief betrokke te wees en die verval van ons munisipaliteit te probeer keer. Goeie samewerking tussen die munisipaliteit en die gemeenskap is nodig. As raadslid dien ek as ’n brug tussen die gemeenskap, die raad en die amptenary.

Wat is die werklike doel van ’n raadslid?
’n Raadslid verteenwoordig die gemeenskap in ’n munisipale raad. Daar word van ’n raadslid verwag om te reageer op navrae, om diensleweringskwessies te ondersoek, raadsbesluite te kommunikeer, saam te werk met belangegroepe en gemeenskapsorganisasies en die gemeenskap se beste belange in die raad te dien.

Wat is tans Bela-Bela-inwoners se grootste behoefte:
Eerlike en opregte terugvoer oor diensleweringsprobleme. Wyk 1 se inwoners verdien beter dienslewering in alle opsigte. Swak instandhouding van paaie, rioollekke, disfunksionele watersuiwering en straatligte wat buite werking is, is onder meer die behoeftes. Eiendomsbelasting en tariewe moet gepaardgaan met munisipale dienslewering van hoë, volhoubare gehalte.

Wat is die resep vir amptenare om munisipale probleme effektief aan te spreek?
Kennis van die munisipale wette, kennis van ’n gemeenskap se regte rakende munisipale dienslewering, toegewyde betrokkenheid by die munisipaliteit en ’n politieke wil om die hele gemeenskap se belange op die hart te dra. Samewerking is goud werd.

Waarom neem dit so lank om probleme uit te sorteer?
Volgens my is dit weens die “silo-benadering” wat geld in munisipaliteite waar afdelings nie met mekaar kommunikeer nie. Ek was die dryfveer agter die weeklikse diensleweringsvergadering en dit verbeter reeds kommunikasie. In die vergaderings poog ons om die “silo-benadering” teen te werk deur al die departemente en hulle hoofde saam met die raad in een vergadering te kry. Die einste vergadering het vir my as VF Plus-raadslid reeds twee groot projekte vergemaklik en die uitvoering daarvan is reeds aan die gang.

Is dit beter om verhoudings met amptenare en opposisie te bou of moet ’n mens deesdae aggressief wees om gehoor te word?
Aggressie is nooit die antwoord nie. Dit lei tot onnodige konflik en misverstande. Goeie verhoudings moet gegrond wees op wedersydse respek en begrip.

Hoe sal jy toesien dat inwoners teen Desember ’n gemaklike feesgety tegemoet kan gaan?
Ek kyk met groot vooruitsigte na Noodhulp en Roodepoort se inwoners wie se kwessies vir die eerste keer in jare aandag geniet danksy die onderhoudsprojek wat tans daar plaasvind. Ek glo dit sal vir ons minder kragonderbrekings gedurende die reënseisoen verseker.

In Wyk 1 glo ek dat die Pendelberry-rioolprobleem nou iets van die verlede is. Ek sal ook seker maak dat ek weer hierdie Desember beskikbaar is vir hulp en enige klagtehante-
ring.


Rika Kruger (DA).

Rika Kruger, DA kandidaat.

Hoe lank is jy al in politiek betrokke en hoekom?
Ek het in 1999 betrokke geraak by die Demokratiese Party(DA) en bring steeds my kant daar.

Ek was vier jaar die speaker van Nokeng Tsa Taemane-munisipaliteit waarna ek 14 jaar in die Gauteng Provinsiale Wetgewer die DA verteenwoordig het op die portefeuljes van sosiale ontwikkeling, landbou en landelike ontwikkeling.

Ek het my hele lewe daaraan gewy om my naaste te dien sodat ander ’n beter lewe te kan geniet.

Verder is dit vir my van belang om te weet hoe ons land en natuurlik munisipaliteite bestuur word. Waar en hoe word ons belasting aangewend?
Hierdie antwoorde is nie altyd beskikbaar nie (nog minder vir Jan Publiek), maar as raadslid of lid van die wetgewer of parlementslid het ’n mens meer geredelike toegang tot hierdie inligting. Jy kan jou dan tot die wet wend om resultate te kry.

Wat is die werklike doel van ’n raadslid?
Verteenwoordiging — ’n Raadslid is ’n verkose verteenwoordiger van die gemeenskap en het dus die mandaat om besluite te maak namens die kiesers wat hy of sy verteenwoordig. Ook om sy of haar pligte deursigtig en verantwoordelik uit te voer.

Fasiliteerder — Om nou saam te werk met die gemeenskap en sodoende die raad in te lig van die behoeftes en klagtes van die kiesers.

Kommunikasiekanaal — Munisipaliteite stel talle regulasies en beplannings voor en moet ook uitvoering gee aan opdragte. Hierdie inligting moet oorgedra word aan die kieser vir deursigtigheid en samewerking.

Monitering — Om die munisipaliteit verantwoordelik te hou vir die uitvoering van pligte; of die diensverskaffing regverdig en aanvaarbaar is; of projekte soos in die geïntegreerde ontwikkelingsplan uitgespel uitgevoer word en binne ’n redelike tydperk afgehandel word.

Verder is die raadslid die voorsitter van die wykskommitee en werk saam met hulle om te verseker dat alle pligte nagekom word. So ook word onopgeloste klagtes opgevolg.

Wat is tans Bela-Bela-inwoners se grootste behoefte?
Krag, water, ligte, riool, slaggate, vullisverwydering, paaie en stormwaterdreinering, parke en ontspanningsareas en toeganklikheid.

Waarom neem dit so lank om probleme op te los?
Indien die regte gekwalifiseerde persone nie in toesighoudende posisies aangestel word nie, kortwiek dit dienslewering.
Amptenare en die regering moet aanspreeklik gehou word en die DA veg vir ’n skoon regering. Die nodige druk moet deur die regte kanale plaasvind. Munisipale wetgewing bemoeilik ernstige disiplinêre optredes.

Is dit beter om verhoudings met amptenare en opposisie te bou of moet ’n mens aggressief wees om gehoor te word?
Onverantwoordelike of ongekwalifiseerde mense aan die hoof van ’n afdeling veroorsaak swak of geen dienslewering. Bestuurders is verantwoordelik vir hul werkspan, maar munisipale wetgewing bemoeilik optrede teenoor amptenare wat disiplinêr aangespreek moet word.

Aggressie is beslis nie die antwoord nie, maar wel professionele optrede teenoor ander raadslede en amptenare.

Hoe sal jy toesien dat inwoners teen Desember ’n gemaklike feesgety kan deurbring?
Ons is reeds in Oktober en met die huidige stand van sake by Eskom sal dit nie maklik wees om enige voorspelling te maak nie. Geen belofte kan nou gemaak word terwyl daar nie die nodige dienste verskaf word nie en ook min of geen terugvoering van die verantwoordelike hoofde plaasvind nie.

Ek sal egter my beste lewer en sover moontlik probeer om uitvoering te gee aan dit wat belangrik is vir die gemeenskap.


Sorg dat jy dié Saterdag registreer

Kiesers sal op Saterdag 1 Oktober by Laerskool Warmbad, die NG Moedergemeente of by Peet se Padstal (R516-pad buite die dorp) die geleentheid kry om hul kieserstatus of adres op te dateer om seker te maak dat hul stem sal tel.

Navrae kan aan die plaaslike Onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) gerig word by tel. (014) 736 8006.
Die DA het vir Rika Kruger as hul kandidaat bekendgestel en Jeedee Cloete is die VF Plus-kandidaat. Ander kandidate is nog nie aangewys nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button