Municipal

Inwoners mor oor meters wat aanrol

Bela-Bela se inwoners is ontstoke nadat hulle uitgevind het hul watermeters bly klim terwyl die krane droog is.

Die inwoners is nou bekommerd dat hulle vir foutiewe lesings sal moet opdok.

Dit gebeur wanneer beurtkrag inskop, vertel van die inwoners wat die afgelope week beeldmateriaal aan Die Pos verskaf het, dat hul watermeters se eenhede roteer, maar daar is niks water in die krane — slegs lug.

’n Plaaslike elektrisiën het in sy video gewys hoe sy meter binne ’n halfuur 5 000 eenhede gebruik het, maar geen water het deur die meter gevloei nie.

Inwoners word dus daarop gewys dat hulle hul watermeters moet nagaan wanneer beurtkrag inskop.

Die Bela-Bela-munisipaliteit vra tans R19,06 per kiloliter, soos in hul begroting aangedui. Straftariewe tree in wanneer die verbruiker meer as 30 kiloliter gebruik het.

Die nasionale beurtkragskedule bring by die dag nuwe uitdagings wat landsburgers vuisvoos laat, veral wat betref die watertoevoer. Die beurtkragfases was teen druktyd afgegradeer na fase 3-beurtkrag.

Die Pos het vroeër berig dat dit ongeveer twee en ’n half uur neem voordat gesuiwerde water vanaf die dorp se suiweringswerke gepomp kan word na die reservoirs waarna dit uiteindelik in die krane opeindig.

Die Bela-Bela-munisipaliteit het nog geensins aangedui of hulle deur middel van ’n begrote staatstoelae die agt hoë kapasiteit kragopwekkers gekoop het wat nodig is om tydens kragonderbrekings volgehoue watertoevoer aan die dorp te verskaf nie.

Weens teveel druk in die pype tydens die wagperiode ná ’n beurtkragepisode opgebou het, gebeur dit dat ’n enorme volume lug die water in die pypleidings vooruitgaan. Watermeters se eenhede roteer, maar die water kom eers later.

Van die inwoners voer aan dat die samestelling van opgeboude lug veroorsaak dat die meters vinniger roteer, teenoor wanneer water wat ’n digter samestelling het, deur die meter vloei.
Belastingbetalers kan ’n dispuut op hul munisipale rekeninge by die munisipaliteit verklaar indien dit wel die geval is.

“Die klagtes wat ek ontvang het van mense is oor vuil water en lug in die pype. Die ironie is dat die munisipaliteit weet dat die lug in die pype ’n probleem is, maar hulle doen absoluut niks daaraan nie,” het Rika Kruger, DA-raadslid, by navraag gesê.

“Die korrekte manier is vir mense om ’n video-opname te maak van hul meters wat besig is om te roteer en toon dat geen water in die krane uitvloei nie. Hulle dien dan ’n dispuutvorm by die munisipaliteit se rekeninge-afdeling in met die bewyse.”

“Die DA wil egter groter aandag op die probleem plaas. Elke inwoner moet hul video’s aan my stuur sodat ons dit as ’n mosie op die komende raadsvergadering kan indien vir dringende aandag. Hoe meer mense ons nader, hoe meer sal die amptenare besef dat dit ’n dorpsprobleem is en nie net ’n individuele kwessie wat hulle maklik uitstel vir later nie.”

Daar is bewerings dat die munisipaliteit tans geen watermeters in voorraad het nie.

Die Pos het reaksie by die munisipaliteit gevra, maar het teen druktyd geen terugvoer gekry nie.

Vir navrae kan mense Kruger bel by tel. 082 558 0995.

Related Articles

Back to top button