Crime

Prokureur staar skorsing in gesig ná trustfonds-vrae

’n Bekende prokureur van Bela-Bela, Johann Koorts, het op Donderdag 22 September voor ’n paneel van die Prokureursorde (Legal Practice Council) verskyn.

Koorts, wat vir jare by Herman Oberholzer Prokureurs in die dorp gepraktiseer het, is in Julie 2021 deur die hooggeregshof in Polokwane verbied om verder te praktiseer.

Sy skorsing van die rol was vir 12 maande geldig nadat hy beskuldig is van die wanbesteding van trustfondse.

Die Prokureursorde het beslag gelê op dokumente en het sy bankrekening gevries.

Luidens ’n hofdokument wat in besit van Die Pos is, is Koorts in Mei 2014 as die eksekuteer aangestel om die boedel van wyle Rollo Brent-Meek van Bela-Bela af te handel.

’n Bedrag van meer as R6 270 000 miljoen is in die trustrekening, wat deur Koorts geskep is, inbetaal en moes oorgedra word aan Brent-Meek se weduwee, Naomi.

Verskillende bedrae is glo tussen Oktober 2015 en November 2018 in hierdie rekening oorbetaal.

In regstukke word aangevoer dat Koorts slegs ’n bietjie meer as R2 195 000 miljoen aan Naomi uitbetaal het en nie die volle som nie.

’n Saak van diefstal is toe by die Bela-Bela-polisie aanhangig gemaak.

Riekert Terblanche van Riekert Terblanche Prokureurs is deur Naomi genader en die saak het in die hooggeregshof in Polokwane gedraai.

Die hof het in Julie vanjaar in die guns van Naomi uitspraak gelewer. Die Pos is in besit van die uitspraak wat eers in September bekendgemaak is.

Die hof het bepaal dat Koorts aan Naomi die uitstaande bedrag van R4 075 000 moet betaal, met rente.

Koorts is ook beveel om Naomi se regskoste te dra.

’n Woordvoerder van die Prokureursorde het bevestig dat Koorts se dissiplinêre verhoor verlede week afgehandel is en dat hulle wag op die paneel se finale uitspraak.

Terblanche, wat ook voor die paneel getuig het, het by navraag gesê ’n sekwestrasieproses teen Koorts sal nou volg om die geld wat verskuldig word in te samel. Terblanche het gesê bykomende aksies teen Koorts kan volg.

Die Prokureursorde versoek voormalige kliënte van Koorts wat wil navraag doen oor hul sake, om ’n e-pos te stuur na NokoK@lpc.org.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button