Local sport

Bergfietsspan trap podiumplek los

Die bergfietsspan van Laerskool Eugène N. Marais (LENM) in Mookgophong het hulself oortref toe hulle derde uit 19 skole in die Limpopo-skolebergfietsreeks geëindig het en boonop die geesbeker saam met Laerskool Krugerpark in Mokopane gewen het.

“Ek is ontsettend trots op die span. Met harde werk en toewyding het hulle sukses behaal en ek is nederig dankbaar vir al die Here se seën en beskerming teenoor myself en die fietsryers,” het Karin du Toit, onderwyseres en afrigter van die skool, gesê.

Die Boompies se “groen masjien” het in alle aspekte vanjaar hulle alles gegee. Vyf van die skool se fietsryers is vir die Limpopo-span gekies. Elke ryer in die span het hul wedrenne voltooi om ’n punt vir die skool te verdien. Die jongste deelnemer in die span is ’n gr. R-leerder. Daar is tans 24 kinders wat oefen en 18 wat aan die skolereeks deelgeneem het.

Die skool het gedurende Julie 2021 met die sportsoort begin en het tot dusver goeie uitslae behaal en volgens Du Toit ook wonderlike mense ontmoet en nuwe vriendskappe gevorm.

Met die eerste wedren in die 2021-skolereeks het net vyf ryers deelgeneem en vanjaar was daar 16 wat aan die eerste wedren deelgeneem het.

“Die span het baie komplimente van die lede en ouers van Limpopo Skole Fietsry gekry vir hul goeie gees en ook hoe fietsry by die skool besig is om te groei,” het sy gesê.

Die sportsoort skep ’n wonderlike geleentheid vir kinders wat nie noodwendig aan ander sportsoorte deelneem nie. Verlede jaar is ’n baie suksesvolle “Tour de Boompies” aangebied. Daar was 80 kinders vanaf gr. RR tot gr. 7 wat deelgeneem het. Daar word weer vanjaar een aangebied en die plan is om ander skole ook te betrek. Daar is onlangs ’n baan om die skool gebou waar die fietsryers kan oefen.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button