Local news

Beurtkrag: Só steier besighede en huishoudings

Die gebrek aan energiesekerheid veroorsaak ontwrigting by alle sakeondernemings. Dit is veral die kleiner besighede wat gebuk gaan onder grootskaalse onsekerheid. Beurtkrag verhinder ook besighede om te groei of te investeer; dus het dit ’n negatiewe impak op ekonomiese vooruitgang.

Hier by Die Pos moet ons kort voor beurtkrag inskop al ons rekenaars en elektriese toebehore afskakel sodat ons die kragopwekker kan aanskakel. Dit kos ons 5 liter brandstof elke keer as ons die opwekker moet aanskakel. Beurtkrag veroorsaak dat ons skakelbord en telefoonlyne nie na behore werk nie en beperk ons interne drukwerk. Finansieel trek ’n mens ook aan die kort end wanneer dit kom by verhoogde drukkoste en daarby is saktye vroeër. Omdat dit produktiwiteit so beïnvloed, moet ’n mens jou werkbeplanning heeltyd aanpas.

Beurtkrag, veral hoër fases, het ’n reuse-impak op ons waterstelsel. Water kan nie gepomp word nie en dit veroorsaak droë krane.

Keer ons nou wraggies ná al die jare se vooruitgang en nuutste tegnologie terug na opsit by kerslig en ’n emmer water om ’n toilet te spoel?


Bela-Bela se inwoners het met Andries van der Heyde gesels:

Piet Botha, Bela-Bela sakeman en AfriForum tak-voorsitter: Die verlies aan inkomste vir elke twee en ’n half uur wat beurtkrag inskop is ongeveer R8 000. Geen arbeider kan werk verrig en sy maatskappy se produksie daal weens beurtkrag.
Gerhard Olivier, sakeman en RSTR-buurtwagvoorsitter: Daar is al baie mense en besighede in die dorp wat ’n kragopwekker het, maar ook nog talle wat sonder dit moet probeer regkom. Enige besigheid wat tot stilstand gedwing word weens beurtkrag, bring die hele plaaslike ekonomie tot stilstand en kan ’n dorp se beeld beskadig.
Charmaine Griessel, Bela-Bela-inwoner en sakevrou: Dit is erg om alleen in Bela-Bela te woon met beurtkrag wat nou so gereeld alles omverwerp. Ek moet leef op wegneemetes, want as ek by die huis kom is daar geen water of krag nie. Ek praat nie eens van al die muskiete en die hitte nie. Vir my eie besigheid om te oorleef moes ek noodgedwonge sonkrag aangeskaf het, want anders moes ek my deure sluit.

Sarita Kriek-Vosloo het by besighede in Modimolle gaan aanklop:

Ursula van Staden, eienaar van Hunky Dory: Ek moes gasplate in die koffiewinkel se kombuis installeer sodat ons ten minste sekere spyskaart-items, waarvan koffie die belangrikste is, tydens beurtkrag kan bedien. Dis ’n nagmerrie om die bak van koeke, kolwyntjies en skons rondom die veranderende beurtkragskedule te probeer beplan. Kragstuwing het twee mikrogolfoonde beskadig, asook die elektriese oond, vrieskas en my rekenaar.
Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon in Modimolle: Die gedurige onderbreking in produksie is ’n groot probleem. Om ’n kragopwekker te gebruik om stene te vervaardig, is eenvoudig nie koste-effektief nie so ons is genoodsaak om alternatiewe planne te maak. Dit wil ook voorkom asof inwoners negatief en moedeloos is met beurtkrag weens die onseker ekonomiese tye waarin ons is.
Cynita Conradie, homeopaat: Ons klein kragopwekker is darem voldoende sodat die praktyk se ligte en rekenaars werk. Beurtkrag maak dit baie moeilik om ’n geskikte omgewing, wat nie te warm of koud is nie, vir pasiënte te skep. Daarmee saam is verskeie toebehore, waaronder ’n duur lugsuiweraar wat die verspreiding van kieme bekamp, al beskadig.
Liz Breytenbach, bestuurder by die Residentia-ouetehuis: Die Residentia Waterberg-ouetehuis is afhanklik van deurlopende kragvoorsiening omdat sommige verswakte bejaardes voltyds suurstofbehandeling ontvang. Hoewel die tehuis oor ’n groot kragopwekker beskik, plaas die bykomende brandstofkoste ’n enorme las op die begroting. Met die krag wat tans drie maal per dag afgaan kos dit ons ongeveer R1 000 per dag vir brandstof. Dit is heelwat meer as waarvoor ons begroot het. Die tehuis moet ook fyn beplan om seker te maak dat die kombuis kan voortgaan om etes te bedien en dat inwoners se wasgoed gewas en gestryk word.

Marietjie Steenkamp het in Mookgophong met besigheideienaars gesels oor beurtkrag:

Marelee Erasmus, eienaar van die Wimpy in Mookgophong: Beurtkrag is ʼn operasionele nagmerrie. Die besigheid se bedryfskoste styg al hoe meer wanneer die beurtkragfase vererger. Die hoë prys van diesel vir die gebruik van ʼn kragopwekker dra daartoe by. Die restaurantbedryf het steeds nie herstel ná die Covid-inperkings nie en nou is dit beurtkrag wat ons kniehalter.
Renė Pallas van Avbob in Mookgophong: Ons dieselverbruik is baie hoog en die waterdruk is baie laag as die krag af gaan. Dit veroorsaak ’n probleem vir die lykshuis en badkamergeriewe. Personeel moet nou ook baie vroeg opstaan om meer dinge klaar te kry voordat beurtkrag begin.
Gerda Lubbe, eienaar van ’n skoonmaakdiens: Die voortdurende beurtkrag belemmer my werk veral as daar soggens lang onderbrekings is. Die gestoffeerde meubels en matte word net nie droog as ons eers later in die dag begin nie. My werkers werk onder druk om alles klaar te kry. ’n Kragopwekker is nie ’n oplossing nie, want dit moet rondgery word.

Related Articles

Back to top button