Crime

Man wat glo tienermeisies teister in hof

’n Man wat na bewering hoërskoolmeisies geteister het deur onsedelike boodskappe na hul selfone te stuur, is vasgetrek.

Hy het reeds op Vrydag 16 September in die Bela-Bela-landdroshof verskyn waarna die saak uitgestel is na Woendag 21 September.

Lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het gesê die man is gereeld en op ongeleë tye naby Hoërskool Warmbad opgemerk.

“Soos ons dit verstaan het hy van die meisies se selfoonnommers sonder hul medewete in die hande gekry. Die meisies het dan walglike boodskappe van ’n seksuele aard ontvang.”

Smith het gesê slegs een van die meisies het ’n saak van seksuele aanranding by die polisie gerapporteer. Hoewel daar bewerings is dat boodskappe na nóg meisies gestuur is, is geen ander sake geopen nie.

Karen Vorster, waarnemende skoolhoof van Hoërskool Warmbad, het aan Die Pos bevestig dat die skool ’n saak van betreding teen die man aanhangig gemaak het. Die klagte is geopen nadat die man glo ’n meisie op die skoolgronde agtervolg het.

Die man, wie se identiteit op regsadvies weerhou word, se saak sou weer op Woensdag 21 September voortduur wanneer hy om borgtog sou aansoek doen.

Die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) rig ’n dringende versoek aan ouers om ten alle tye van hul kinders se bewegings bewus te wees. Let veral op wat hulle op hul selfone ontvang, asook wat op hul sosiale blaaie aangaan.

  • Lede van die National Child Protection hotline het die afgelope week Bela-Bela besoek en lede van die wyk 1-komitee van die Bela-Bela-munisipaliteit ontmoet.

Die doel van die hulplyn is om kinders wat gemolesteer, mishandel of aan dwelms blootgestel word, by te staan.

Danie van Loggerenberg, hulplynstigter, het gesê leerders kan die hulplyn self gebruik met die wete dat hulle die persoon aan die anderkant van die lyn — deur Whatsapp — kan vertrou.

Die nasionale hulplynnommer is tel. 076 900 7151.

In Limpopo is daar die volgende hulplyne: Bela-Bela (082 769 7358), Lephalale (072 868 6235), Polokwane (072 018 2832), Tzaneen (072 046 9153), Mokopane (076 188 0455), Thoyandou (076 420 9620), Makhado (076 432 9584), Phalaborwa (072 960 7546) en Giyani (076 161 6554).

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button