Local news

Bome sorg vir groener toekoms

Grootskaalse ontwikkeling en die onwettige stroping van natuurlike habitatte bly een van die grootste bedreigings in die Waterberg-omgewing.

Dit is ’n saak wat herhaaldelik op verskeie openbare vergaderings bespreek word. Bewerings word gemaak dat die owerhede nie hard genoeg optree teen mense wat bome summier afkap vir vuurmaakhout nie.

Die alternatiewe opsie is om nuwe bome te plant, soos wat lede van African Wildlife Services (AWS) die afgelope week tussen Modimolle en Bela-Bela gedoen het.

Louis Ebersohn, AWS-stigterslid, het die afgelope week drie kremetartbome in ’n bebosde en oop gebied by die Renosterpoort-privaatreservaat hervestig. Die plaas is gestig deur dr. André Ebersöhn, plaaslike mediese praktisyn.

Louis het die kremetart-saailinge aanvanklik in ’n blompot op hul erf gekweek en met baie moeite uitgehaal en herplant.

“Ek plant graag elke jaar bome. Ons moet dit doen om biodiversiteit te bevorder sodat daar genoeg nesplekke en habitat geskep kan word vir ons inheemse spesies soos aasvoëls en nagapies. Dit maak my baie ongelukkig dat onnodige ontbossing verdere gevaar inhou,” het Louis gesê.

Die reservaat huisves tans ’n jong student van Amerika, Kristie Gill, wat besig is met navorsing vir haar doktorsgraad. Haar navorsing handel oor habitatgebiede — gebiede wat floreer of wegkrimp weens menslike invloed of nalatigheid.

Die navorsing se doel is om nuwe lig te werp op die bewaring van natuurlike habitatte en die voordele wat dit vir gemeenskappe en die wildlewe inhou.

Daar word ook gekyk na rolspelers in die wildbedryf en ander gebiede wat deur middel van bewaringswetgewing en proaktiewe optrede kan sorg dat daar ’n erfenis vir die nageslag behoue bly.

Louis se vrou, Corlia, het in reaksie gesê bome is ’n belangrike nalatenskap en daarom is dit belangrik om bome te plant.

“Ek was regtig verbaas om te sien hoe vinnig ’n boom opgekap en vir vuurmaakhout gebruik word. Ontbossing en oorbewyding is sake wat dringend aangespreek moet word in ons omgewing. Hoewel ek nie hier sal weens om in die skadu van ons kremetartbome te lê nie, sal ons kinders hopelik eendag daardie geleentheid kry,” het sy gesê.

Die eienaars beoog om die breër publiek by ’n gemeenskapsprojek te betrek waar mense byeen kan kom om bome te plant.

Mense wat by hierdie boomplant-konsep wil betrokke raak, kan vir Corlia bel by tel. 076 451 8518.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button