Municipal

DA besoek LUR oor Bela-Bela-probleme

Die DA het op Dinsdag 20 September ’n stel klagtes op die tafel van die LUR van die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (Coghsta) in Polokwane neergesit oor die stand van sake in Bela-Bela.

Desirée van der Walt, LP en die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof, het saam met belanghebbendes die LUR, Basikopo Makamu, ontmoet.

Die gesprek het gehandel oor die gebrek aan terugvoer sedert die vreedsame optog wat op Vrydag 3 Junie deur gemeenskapslede na die munisipaliteit gehou is.

Meer as 1200 inwoners het ’n petisie geteken dat die munisipaliteit dringend moet ingryp om verskeie uitstaande kwessies soos krag-, water-, straatligte-, riool-, parke-, belasting- en rondloperveeprobleme aan te spreek.

Die betogers was teleurgesteld dat geen amptenaar hulle tydens die betoging ontvang het nie, het Die Pos destyds berig.

Die munisipaliteit se terugvoer hieroor was dat die organiseerders van die betoging nie die korrekte prosedure gevolg het vir die dag se verrigtinge nie. Die amptenare was bereid om die klagtes aan te hoor indien dit gedoen is, het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, destyds gesê.

Johan Mills en Rika Kruger, DA-raadslede, het die petisie en memorandum as mosie-items vir die raadsvergadering in Julie ingedien, maar die speaker he dit nooit op die agenda geplaas nie.
Die DA het die raadsvergadering uit protes verlaat.

Van der Walt het gesê nie eens die munisipale bestuurder was bereid om die klagtes te ontvang nie. Dit skep ’n swak indruk en laat inwoners aflei dat amptenare hul plig versuim.

“Die stemme van die inwoners word geïgnoreer. Dit beteken dat die besware van gemeenskappe vir die burgemeester, speaker en munisipale bestuurder glad nie belangrik is nie. Dit is teenstrydig met hul wetlike verpligtinge.”

Verdere kommer is met die LUR bespreek rakende Eskom en die Magalies Waterraad se munisipale rekeninge.

Van der Walt het gesê die LUR is dit eens dat die publiek moet weet teen watter koste hierdie entiteite dienste aan die dorp verskaf, asook wat die totale eenhede krag of watervolume wat verskaf word.

“Ons het daarop gewys dat dit onaanvaarbaar is dat die munisipaliteit nie sekere regulasies gebruik om deur Eskom verligting vir beurtkrag, asook vir watertoevoer, te bied nie. Inwoners gaan al geruime tyd gebuk onder beurtkrag, asook beperkte beurtkrag. Tog is daar geen poging vir hulp of kommunikasie, indien enige.”

Van der Walt beweer dat Makamu verskeie punte oor die bestuur en dienslewering in Bela-Bela uitgewys het en dat hy reeds stappe teen die munisipaliteit begin het.
Hy het ook onderneem om die munisipaliteit te besoek. ’n Vergadering met die departementshoofde vir antwoorde is ook belowe.

“Dit is belangrik dat inwoners se pleidooie op alle vlakke van regering gehoor word. Indien daar geen positiewe verandering binne die volgende tyd gebeur nie, sal hierdie petisie en memorandum by die Parlement ingedien word.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button