Blogs

Hoofartikel: ’n Nalatenskap wat karakter bou

Openbare vakansiedae bied ’n welkome breek in die alledaagse werkweek, maar Erfenisdag wat op 24 September gevier word, het uiteenlopende betekenisse in ons reёnboognasie.

Hoewel die woord “erfenis” oorspronklik gebruik is vir konkrete erfgoed, waardevolle kunswerke, Ouma se trouring of die familieplaas, of selfs geskiedkundige monumente eie aan elke taal en kultuur, is daar ook ’n meer omvattende betekenis.

Erfenis of nalatenskap verwys ook na dit wat van geslag tot geslag oorgedra word. So erf ons tradisies, rituele en gebruike van ons voorouers. Dink maar aan braaivleis en langarmsokkie, kerkbasaar, familie-etes op Sondae, Voortrekkerkampe en Kersfees.

Elkeen van ons maak ’n impak op ons kinders, familie, vriende en die gemeenskap. Dit is hierdie nalatenskap op mense se lewens en harte waarvoor ons eendag onthou sal word.

Maar miskien is ons belangrikste nalatenskap aan ons kinders nie tradisies of kosbare erfstukke nie, maar eerder iets met ewigheidswaarde. Want deur ons voorbeeld word ons kinders se karakter gevorm.

Ouers verwag van kinders om gehoorsaam te wees, reёls te volg, hul kamers op te ruim, huiswerk te doen en hard te leer vir toetse en eksamens. Maar stel ons nougeset ’n goeie voorbeeld wat hulle kan navolg?

Kla ons gedurig oor werk of sit ons skouer aan die wiel om suksesvol te wees? Volg ons altyd die padreёls en spoedgrens? Hou ons by spertye en is ons betyds vir afsprake? Maak ons voorsiening vir die toekoms? Word rekenings vereffen en bly ons binne ons maandelikse begroting?

Neem ons verantwoordelikheid vir ons omgewing? Tel ons self die rommel op die sypaadjie op of word daar verwag dat iemand anders dit doen? Streef ons na ’n ordelike huishouding of lyk dit meestal asof ’n stormwind dwarsdeur die huis gewaai het? Reik ons uit na hulpbehoewendes? Hanteer ons mense met respek en deernis? Kan ons om vergifnis vra? Laat ons ruimte vir ander kulture en geloofsoortuigings?

Vra jouself of jou nalatenskap sal toesien dat jou kinders se karakter sielskragtig, standvastig en eerbaar is.

Related Articles

Back to top button