Crime

Rowers vasgetrek

Die Bela-Bela-polisie het op Sondag 4 September ’n groep vermeende rowers se misdaadvlaag tot ’n einde gebring nadat hulle op die R101-pad naby die Bela Mall in hegtenis geneem het.

Volgens lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela polisiespeurtakhoof, is twee vuurwapens, ’n klomp selfone en toerusting wat gebruik word om inbrake te pleeg, in die voertuig gevind.

Die suksesvolle inhegtenisname was te danke aan die uitgebreide veiligheidskameranetwerk wat die beweging van die verdagtes tot in Bela-Bela gevolg het.

Die drie verdagtes, Ayke Aramiada (27), Power Simba Majeza (26) en Thabiso Seoketsa (34), het na bewering tussen Augustus en September verskeie misdade gepleeg. Aramiada en Majeza is van Zimbabwe en Seoketsa is van Hammanskraal.

Die polisie beweer die verdagtes het twee vuurwapens by twee polisiemanne in Pretoria geroof. Hulle het glo ook op Saterdag 3 September ’n skrikbewind in die Masakhane-nedersetting buite Radium gevoer. Verskeie inwoners is na bewering van hul selfone beroof.

Die verdagtes het op Dinsdag 6 September op aanklagte van aanranding, huisbraak en roof in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Aramiada en Majeza is ook aangekla van die besit van ammunisie en onwettige vuurwapens en van oortreding van die immigrasiewet. Hul hofsaak sou op Dinsdag 13 September voortduur.

Volgens Smith word die drie verder verbind met nog sake wat onder meer moord, poging tot moord en voertuigdiefstal insluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button