Local news

Hulp stroom in vir Hennie Pistorius

Hennie Pistorius (46) se hande staan vir niks verkeerd nie, maar toe hy op Saterdag 27 Augustus sy balans verloor en van ’n sinkplaatdak afval het, het sy wêreld onderstebo gekeer. Dié fratsongeluk het by sy skoonma se huis in Modimolle gebeur toe hy besig was om sinkplate bo-op ’n motorafdak te installeer.

Sy vrou, Jourika, vertel dat sy die betrokke oggend die slag op die sinkdak gehoor en op haar man afgekom het waar hy op die grond lê met ’n enorme sny aan sy kop. Sy is inderhaas met hom na dr. André Ebersohn (bekend as die plaasdokter) net buite Modimolle waar die dokter vir bykans ses ure gespook het om die wond te ontsmet en die bloeding te stop.

Die regterkant van Pistorius se kopvel is van agter tot by sy regtertempel deur die skerp rand van ’n sinkplaat tot op die skedelbeen oopgesny.

Die daaropvolgende week is Pistorius vier keer terug na die dokter om telkens die wond te ontsmet en die infeksie te probeer keer. Die wond het egter septies geraak en hulle is vroegoggend op Sondag 4 September na die ongevalle-afdeling van die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria. Nadat die septiese wond weer skoongemaak is, is Pistorius na die Cintocare-privaathospitaal oorgeplaas waar ’n chirurgiese span ’n operasie op hom uitgevoer het.

Pistorius se vrou, wat hom deurgaans bygestaan het, vertel hoe opgewonde hul twee seuntjies, HJ (1) en Erik (3), was toe hy op Vrydag 9 September ontslaan is en kon terugkeer huis toe.

“Die pad na herstel is nog lank en ons sal moet wag om te sien of daar permanente skade aan die senuwees in sy gesig is, maar ons is opreg dankbaar dat die Here my man gespaar het,” het sy gesê.

Pistorius is gebore en getoë in Modimolle sedert sy ouers, Erik en Trudie Pistorius, bykans 50 jaar gelede daarheen verhuis het. Hy is ’n tegniesvaardige man wat meganiese werk aan trekkers en plaasimplemente vir boere in die Waterberg omgewing verrig.

Intussen het Pistorius se suster, Jane-Serie de Beer (35), ’n fondsinsamelingsveldtog begin omdat die gesin nie oor ’n mediese fonds beskik nie. Pistorius is die broodwinner wat geen inkomste verdien terwyl hy buite aksie is nie.

“My Ouboet is so sterk soos ’n ratel en hy beraam altyd planne om ander mense te help. Nou is dit my beurt om hom te help sodat hy net daarop kan fokus om gesond te word,” het sy gesê.

Sy het in ’n openhartige brief aan Jacaranda se Good Morning Angels vertel van haar geliefde Ouboet se ongeluk en gevra vir hulp. Tydens die radio-onderhoud met Martin Bester, aanbieder van die program, op Woensdag 7 September, het sy in trane uitgebars toe Arnoux en Kiara Maré ’n skenking van R100 000 gemaak het om te help met die mediese uitgawes. Nog twee luisteraars het kort daarna elkeen R10 000 geskenk.

Maré, ’n welvarende sakeman en entrepreneur wat pas ’n nuwe sport- en buitelewewinkel in Modimolle geopen het, het lankal reeds vir Bester genooi om die winkel se amptelike opening op Saterdag 10 September by te woon. Nadat hy van Pistorius se ongeluk te hore gekom het, het hy en Bester koppe bymekaar gesit om die gesin te help.

De Beer het aan Die Pos vertel dat die mediese uitgawes reeds ongeveer R150 000 beloop wat nie haar broer se verlies aan inkomste byreken nie.

Die familie wil hul opregte dank betuig aan almal wat hulle in hierdie moeilike tyd bygestaan en gehelp het.

“Gebede is meer werd as rand en sent en ons gee alle eer aan die Here vir die wonderlike mense wat Hy oor ons pad gestuur het,” het sy gesê.

Lesers wat graag die Pistorius-gesin wil help kan vir De Beer bel by tel. 072 362 6543.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button