Municipal

DA-raadslid en munisipale werkers rol moue op

Die Reitz-straatpark in Bela-Bela geniet deesdae aansienlike aandag danksy bereidwillige munisipale werkers, asook DA-raadslid Rika Kruger wat die park van ondergang wil red.

Die parke-afdeling by die Bela-Bela-munisipaliteit is deesdae weer aan die werk by die park.

“Ons het op Woensdag 7 September daar ingevaar en opgeruim. Dit was juis toe dat ’n brandstigter die oggend ’n hoop tuinvullis aan die brand gesteek het. Ek was dankbaar dat die brandweer so vinnig opgedaag het,” het Kruger gesê.

Die park was vir die inwoners in die omtrek ’n groot kopseer weens hawelose mense wat hulself daar tuismaak en die agteruitgang wat duidelik sigbaar was. Benewens die oorgroeide sypaadjies is van die speelapparate verwyder of beskadig. Die toiletgeriewe het ook onder vandale deurgeloop.

“Ons het vasgestel dat die sogenaamde waterlek by die park al die tyd ’n gebarste ondergrondse waterpyp was. Dit is herstel. Verder is daar fondse bewillig om die riete te verwyder, die water uit te pomp en die gat op te vul.”

Opknapwerk is volgens haar nodig, want amptenare het verlede week twee vermeende dwelmgebruikers tussen die riete aangetref. Hulle het glo daar geslaap, het Kruger gesê. Die park word gereeld deur die buurtwag en polisie gepatrolleer weens die vermoede dat dwelms daar verkoop word.

“Daar sal nog gesprekke plaasvind oor die toiletgeriewe en die speelgrond. Ons maak uitsonderlike vordering, maar solank as wat die park sleg lyk sal geen ouer hul kinders daar wil laat baljaar nie. Samesprekings om die gemeenskap in te bring om die park te help bestuur, moet nog plaasvind.”

Sy sê daar word ook na nuwe opsies gekyk om haweloses in die dorp te huisves.

“Die munisipaliteit het nie ’n maatskaplike funksie nie, maar indien haweloses elders gehuisves word, sal die park hulle nie lok nie.”

Kruger vertel daar is omtrent 63 werkers wat regoor die dorp openbare plekke ontbos en opruim as deel van die afdeling se instandhoudingsprogram.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button