Local news

Bek-en-klouseer wys steeds tande in veebedryf

Die veebedryf het die afgelope week steeds angstig gewag op die regering se volgende stap rakende die nasionale verbod op die vervoer van beeste weens bek-en-klouseer.

Terwyl boere hul asems ophou, het verteenwoordigers van die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO), asook staatsveeartse, op Vrydag 2 September ’n inligtingsdag by die Warmbad Veemark-veekrale buite Bela-Bela gehou om belanghebbendes op hoogte bring.

Simptome van die siekte sluit in oortollige speeksel of sere in die beeste se bekke en ’n gebrek of sere op hul hoewe.

“Dit is werklik kundiges wat die besluit geneem het om die verbod in te stel. Die besluit is nie ligtelik geneem nie, want die siekte is ernstig. Beeste mag vervoer word, maar slegs vir slagting na ’n geregistreerde abattoir en nie na voerkrale nie,” het dr. Johan Mentz, veearts by die departement van landbou, op die vergadering gesê.

“Ons hoop dat die verbod eersdaags opgehef sal word en dat die veilige sones in die provinsies van die verbod gevrywaar sal word. Intussen geld die verbod.”

Die verbod is op Donderdag 18 Augustus deur die departement van landbou ingestel nadat daar meer as 120 gevalle van bek-en-klouseer in verskeie provinsies aangemeld is.

Die verbod is nie van toepassing op enige ander diere soos skape, varke of bokke nie.

Botswana is tans die enigste buurland wat hul invoere en uitvoere vir alle vee gestaak het.

Voerkrale en veilingshuise in Suid-Afrika se sake is heeltemal opgeskort weens die verbod.

Die enigste vergunning wat deur die departement gemaak is, was dat beeste wat deur ’n veearts as gesond verklaar is, na ’n geregistreerde abattoir geneem mag word om geslag te word indien die nodige permitte daarvoor uitgereik is.

Verder is veeboere vir 21 dae verbied om enigsins beeste te vervoer.

Die 21 dae, wat hersienbaar is, kom teen Donderdag 8 September ten einde.

Dr. Pierre Bester, veearts en veeboer, het tydens die vergadering gesê biosekuriteit is ’n ernstige faktor vir veeboere.

“Die land het weer sy bek-en-klouseer-vrye-status verloor. Dit is die nasionale en buitelandse owerhede, soos die Wêreld gesondheidsorganisasie (WHO), wat bepaal het dat ons produkte nie meer goed genoeg is om uit te voer nie,” het hy gesê.

“Dit gebeur baie selde dat skape of bokke as die oorsprong van die siekte getoets word. Diere wat vrylik rondbeweeg kan dit versprei. Wildsoorte, veral buffels, is ook draers.:
Bester het gesê dit is logisties baie moeilik om die verspreiding van hierdie siekte te voorkom.

Dr. Gerhard Coetzer, veearts van die departement, het op sy beurt uitgebrei oor die siekte wat gereeld tussen 2000 en 2022 uitgebreek het.

Die gebied al langs die Krugerwildtuin, vanaf KwaZulu-Natal tot by die Limpopo-rivier weswaarts, word steeds as ’n hoërisiko gebied bestempel en word by die dag gemoniteer.

Die gebied staan bekend as die siekte- beheergebied, omdat daar te veel uitbrake naby die wildtuin en in aangrensende plekke plaasvind.

“Die langtermynplan van die departement is na verneem word om dié enorme gebied te omhein om die siekte te stuit. Ons het dadelik begin met ondersoeke oor hoe ver die siekte al versprei het. Derduisende beeste in die buffersone binne die beheergebied gebied is ingeënt teen die siekte.”

Coetzer het verder gesê gereelde padblokkades is nie doeltreffend nie, omdat oortreders bewus is van die talle ompaaie in die land waarop hulle hul vee vervoer sonder om gesien te word.

Dié onwettige aktiwiteite het veroorsaak dat siek vee ander provinsies geïnfekteer het, het hy gesê.

Die Pos het uitgevra hoe die verbod uitgeoefen kan word wat rondlopervee betref. Die gassprekers meen dat daar tans geen biodiverse wetlike raamwerk in plek is om rondlopervee en hul eienaars tydens ’n uitbraak vas te vat nie.

Related Articles

Back to top button