Local news

Boere spring self in en herstel paaie voor reënseisoen kom

Die swak toestand van toegangsroetes en paaie in die Bela-Bela-, Settlers- en Modimolle-omgewing het motoriste met die hande in die hare.

Politici maak op openbare vergaderings talle beloftes dat die regering werk aan die herstel van provinsiale paaie. Die departemente wat egter verantwoordelik is vir die instandhouding van paaie soos die Limpopo Padagentskap (RAL) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), kry baie kritiek oor paaie wat onbegaanbaar en onveilig is.

Talle paaie het slaggate, ongelyke padoppervlaktes en vernoude rybane omdat die skouers van die paaie verweer.

Die enigste pad in Limpopo wat na verneem word die afgelope jaar opgegradeer is, is in die Gilead-omgewing in Mogalakwena.

Sanral het onlangs aangekondig hulle begin eersdaags met die opgraderings aan die R516-pad vanaf Thabazimbi tot in Bela-Bela, die R33-pad tussen Bela-Bela en Modimolle, asook die pad tussen Modimolle en Vaalwater. Luidens ’n mediaverklaring van Sanral sal die herstelwerk teen Julie 2023 voltooi wees.

Lede van die Springbokvlakte-boerevereniging en inwoners van die Settlers-omgewing het op Dinsdag, 16 Augustus, ingespring en paaie in die omgewing op eie koste begin herstel.

“Ons het besluit ons kan nie langer wag nie. Die paaie is lewensgevaarlik en ons sal die R516-, R576- en ’n gedeelte van die pad tussen Settlers en Modimolle herstel,” het Willem van der Walt, voorsitter van die boerevereniging, aan Die Pos gesê.

Die lede van die boerevereniging het hul kommer uitgespreek oor die vermoë van Sanral om die paaie te herstel voordat die reënseisoen aanbreek. Die reën het tot gevolg dat gate in die pad nog groter word en verwering van die padoppervlaktes vererger.

“Ons wil die paaie herstel, want ons voertuie kry skade en ons produkte word nie betyds by die markte gelewer nie. Verskaffers van produkte op die plase wil nie meer aflewerings doen nie, want hul afleweringsvoertuie word beskadig.”

Van der Walt doen ’n beroep op die Springbokvlakte-gemeenskap en mense in ander plekke in die Waterberg om by soortgelyke projekte betrokke te raak. Volgens hom is dit belangrik dat boere se belange beskerm word, want hulle dra by tot voedselsekerheid.

“Donasies is altyd welkom, maar soms is die goeie gesindheid van inwoners wat hul gemeenskap wil ophef, baie meer werd as die skenking self.”

Related Articles

Back to top button