Local news

Kunstenaars spog met digbundel

Ná baie maande se toegewyde, harde werk het die woordkunstenaar, Johanette Pretorius en skilder, Corietha Müller van Mookgophong, se digbundel-joernaal die lig gesien.

Die bekendstelling van die boek is op Saterdagaand 2 September by die Nylsvley-veilingsterrein gehou. Die sowat 70 gaste is ontvang met ’n wyn “spritzer” en eethappies terwyl die nyalas rustig nadergestaan het.

Pretorius se digkuns het tydens die pandemie in 2020 vlamgevat en van toe af was daar geen keer aan haar kreatiewe denke nie. Müller het die skilderye geverf volgens die gedigte en Surita Steenkamp, ’n pottebakker en beeldhouer van Steenbokpan, het volgens die interpretasie beelde gemaak. Die uitleg is deur die bekwame Liezl Turvey van Crecy gedoen.

“Deur inspirasie te gebruik van Johanette se gedigte het ek “Blinklyfmens” geskilder om elke gedig visueel vir die leser uit te beeld,” het Müller aan Die Pos vertel.

“Ek het in my wildste drome nooit gedink dat ek ’n digbundel sal kan uitgee nie. Soli deo gloria. Dis ’n voorreg om hierdie poging saam met Corietha en Liezl te kon aanpak. Ek is dankbaar,” het Pretorius gesê.

Die twee kunstenaars is reeds besig om aan ’n tweede volume te werk.

Related Articles

Back to top button