Recipes

Laat waai met ’n lipleklekker slaai

Lente is hier en die soppotte kan vir eers gebêre word tot in die winter van 2023.

Nou is dit weer tyd om heerlike vars slaaie te maak vir die warm somerdae wat voorlê.

’n Slaai hoef nie net as bykos by ’n vleisbraai voorgesit te word nie, maar met genoeg voedsame groente, sade en proteïne kan dit as ’n ligte maaltyd bedien word.

’n Lekker slaai kan ook in ’n kosblik gepak word vir die skoolgaande kinders of sommer wanneer jy jou eie middagete saamneem werk toe.

Slaai is ook ’n goeie opsie vir mense met tipe 2-diabetes. Die groente het lae kalorieë en is ryk aan vesel wat die bloedsuiker verlaag en die opname van glukose vertraag.

Gebruik die groente wat in seisoen is en maklik bekombaar is in jou omgewing. Deur te eksperimenteer met verskeie opsies en smake, wat nie noodwendig tradisioneel in slaai gebruik word nie, kan jy ’n trefferslaairesep ontwerp.

Hierdie voedsame slaai kan met oorskiet braaivleis of lekker sterk gegeurde beesvleisrepies gemaak word. Dit sal ook die manne in die huis laat reik vir die slaaibak.

Deesdae kreun die rakke in die winkels met ’n groot verskeidenheid van soorte en kleure blaarslaai. Dit vorm die beste basis vir ’n vars somerslaai.

Vir die eerste somerslaai op die foto gebruik blare soos babaspinasieblare, wilde roket of bababeetblare. Hierby voeg jy pastrami (of ’n lekker koue vleis van jou keuse), grasuie, geroosterde baba-eiervrugte, kersietamaties, ’n bietjie neute en eetbare blommetjies vir kleur. Dit kan met of sonder ’n slaaisous bedien word.

Die tweede slaai op die foto is sonder tamatie. Voeg babaspinasieblare, lekker sterk gegeurde beesvleisrepies (of die wat van die vorige aand se vleisbraai oorgebly het) roketblare, krakerige uie, bloukaas en vars gesnyde pere met ’n slaaisous van jou keuse.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button