Wie’s baas en wie’s die hond?

Daar is twee soorte honde-eienaars: die mense wat ’n hond of twee kry vir hul kinders en dan is daar die mense wie se honde hul kinders is.

René Dalton Rossouw is een van laasgenoemdes wat verknog is aan haar hondekinders. Sy en haar man, Louis, is oorspronklik van Groblersdal waar hulle met tabak en waatlemoene geboer het.

Hulle woon sedert Julie 2019 in Modimolle waar Louis bedags op hul plaas naby Alma boer terwyl René ’n fiksheidstudio van die huis af bedryf. Sy sien ook voltyds om na hul jongste seun, Wynand (20), wat aan outisme ly. Die egpaar se oudste seun, Beyers (24), het pas as ingenieur in Kaapstad begin werk.

Die Pos het by hulle gaan inloer om te hoor hoe ’n mens huis hou as jy ook ’n groot troeteldierliefhebber is. René vertel dat sy op een tyd 14 honde op hul plaas in Groblersdal gehad het. Daar was oor die jare ’n mengelmoes van wolfhonde, Jack Russells, pomeranians (Toy Poms), Maltese poedels en haar geliefde skaaphonde.

In Louis en René Rossouw van Modimolle se huis kry al hul hondekinders ‘n oorvloed liefde en aandag. Hierdie huishouding draai behoorlik om die honde en “bederf” is die wagwoord. Op die foto is vier van hul vyf honde wat kwylend sit en wag vir ‘n bederfhappie.

Daar is tans vyf honde — twee kleiner huishondjies en drie ras-egte skaaphonde wat hoofsaaklik buitenshuis op die Rossouws se erf bly. Die jongste twee skaaphonde is van dieselfde werpsel (boetie en sussie) en speel heeldag op die groot grasperk agter die huis. Die oudste skaaphond, Tinkerbell (vernoem deur Wynand toe Peter Pan sy gunstelingstorie was) is “baas van die plaas” en steur haar nie veel aan die jongeres nie.

Die twee huishondjies is in 2016 by die Vallei-dierefonds in Groblersdal aangeneem. Leila, die Yorkie-kruising, swaai binnens-
huis die septer met haar oulike gesiggie en liefdevolle geaardheid terwyl Mietsie, ’n worshondkrui-
sing, rustig alles gade slaan. Daar is ’n pasgemaakte houtbedjie met sagte matras onder die koffiestasie in die eetkamer waar hulle bedags ’n uiltjie knip.

Saans wanneer die gesin voor die televisie ontspan, lê die twee op donsige kussings langs die rusbank en sodra die huismense gaan inkruip, word hulle knus in hul bedjie langs hul “mensma” se bed in ’n kombersie toegewikkel.

René vertel hoewel Wynand baie sensitief is vir reuke en geluide, hy graag binnenshuis met die tweetjies speel. “Hy gaan haal gewoonlik ’n stukkie droёwors en hardloop dan kamma weg vir die hondjies sodat hulle hom moet jaag.”

Hierdie huishouding draai behoorlik om die honde waar “bederf” die wagwoord is. Al die honde kry daagliks ’n skeppie tuisgemaakte hoenderbredie met rys saam met hulle hondeblokkies.

Versnaperinge is gewoonlik ’n stukkie gekookte hoender of droëwors.

Die skaaphonde het elkeen ’n hondehok direk langs die stoep, asook dagbeddens waar hulle luilekker in die son kan lê. Daar is boonop ’n oorvloed speelgoed om hulself bedags mee besig te hou.

“Wanneer ek op die stoep sit om ’n koppie boeretroos te geniet en die honde lê so om my, voel ek skatryk,” het René gesê.

Dit getuig beslis van die oorvloed liefde en aandag wat hierdie hondekinders geniet.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button