Die kleurvolle hart van Grafiti-gastehuis

Inwoners van Bela-Bela se nuuskierigheid het nie perke wanneer hulle op die hoek van Kretzchmar- en Flamboyantstraat verby die huis van wyle Gerrie van der Westhuizen, bekende boukontrakteur ry, en die kleurvolle pienk flamink voor die nuwe Grafiti-gastehuis gewaar nie.

Enorme kunswerke van Frida Kahlo, bekende Meksikaan-se kunstenaar, word op verskeie plekke in die Grafiti-gastehuis in Bela-Bela aangetref. Die portrette van dié ikoon is kunstig met gesigmaskers versier om in die huidige eeu aan te pas.

Die woning is jare reeds ’n landmerk in Bela-Bela en hoewel die struktuur hoofsaaklik uit sierstene gebou is, het dit nog altyd ’n kontemporêre boustyl gehad. Dit was juis hierdie boustyl wat die South of Africa-groep beïndruk het en laat besluit het om dit in ’n gastehuis te omskep.

Dié groep bestuur die Elephant Springs Hotel, Shangri-La Hotel buite Modimolle en het ook eiendom aan die Weskus.

“Die Grafiti-gastehuis se binneontwerp laat behoorlik besoekers se monde oop val. Elke meubelstuk en vertrek is met sorg beplan en die samestelling van kleure vul die sinergie van die gastehuis aan,” het Stef Venter, direkteur van South of Africa, aan Die Pos vertel.

Die bestuur van die nuwe Grafiti-gastehuis in Bela-Bela het met helder kleure ’n unieke interieur geskep en bied aan gaste ’n warm verwelkoming by ontvangs. Die gastekamers is uitsonderlik en die pragtige ontwerpe dra by tot die luukse atmosfeer.

Die pienk, groen, goud en blou kleure word ondersteun deur die rustige grys wat oral opduik. Die luukse muurpapier met vrolike voëlontwerpe is volgens die nuutste modeneiging. En bo dié fees van kleure staan die helder pienk flaminke uit.

Die groot kunswerke van Frida Kahlo, bekende Meksikaanse-kunstenaar en mode-ikoon, is op seildoek aangebring en pas nou perfek in die moderne eeu.

“Om die siersteen van die oorspronklike gebou effens te versag, het ons sinkplaatpanele aangebring om die boustyl te komplementeer en ook die diefwering van die oorspronklike huis elders aangebring.”

Die gastehuis, wat reeds sedert die afgelope Paasnaweek in April oop is, beskik ook oor konferensiegeriewe vir werkwinkels en seminare terwyl gaste behoorlik gepamperlang word.

Die gastehuis se ligte is baie treffend en ontlok dadelik reaksie by besoekers uit.

Beligting speel ’n groot rol by enige gastehuis en hier vorm dit deel van die gastehuis se unieke ontwerp. Op die foto is die konferensiegeriewe van die Grafiti-gastehuis in Bela-Bela.

Besoekers is baie beïndruk met die goeie koffiemasjiene wat in die gastekamers aangebring is en vind die uitgebreide spyskaart met keurige disse ook voortreflik.

“Die Bosveld ontvang dikwels gaste uit Gauteng en ander provinsies. Die Waterberg is vir hulle ’n ideale vakansiebestemming, want dit is slegs ’n uur of twee se ry van die groot stede. Bela-Bela en omliggende dorpe bied rustigheid en uithaler eko-toerisme-aktiwiteite aan gaste. Kom ervaar gerus self die warmte van die Bosveld en sy mense,” het Venter genooi.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button