Local news

Woede nadat historiese huis se dak in duie stort

’n Gerammel wat soos donderweer klink het die inwoners van Modimolle op Sondag, 28 Augustus, regop laat sit.

Dit was egter die klank van honderde leiklipdakteëls wat na benede tuimel toe ’n gedeelte van die historiese Strijdomhuis in Kerkstraat se dak inmekaar gestort het.

Kallie van der Merwe, wat in ’n aparte huis op die perseel woon, het aan Die Pos vertel hy het die afgelope twee weke opgemerk dat die een gedeelte van die dak besig is om te sak. Hy het gesê hy het Saterdagaand (27 Augustus) duidelik gehoor hoe die dakbalke kraak. Die volgende oggend kon hy sien hoe die dak aan die oostekant van die huis stadig al hoe verder insak. Die gedeelte is bo die hoofslaapkamer.

“Ek en my vrou, Thelma, het na buite gestorm toe ons die gerammel omstreeks 14:14 hoor en gesien hoe die dak binne 10 minute intuimel. Die dakgewel bokant die hoofslaapkamer het morsaf gebreek en saam met die leiklipteëls en houtbalke na onder geval,” het hy gesê.

Volgens van der Merwe was hy die laaste tyd gereeld in kontak met Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, om haar op hoogte te hou van die toestand van die gebou.

Hier is die hoofslaapkamer van die Strijdom-huis in Modimolle nadat ’n groot gedeelte van die dak verlede Sondag ineengestort het. Die dakvenster van die solderkamer het staande gebly, maar die dakgewel het saam met die dakbalke en leiklipdakteëls na benede getuimel.

Tydens Die Pos se vorige besoek op 25 Augustus verlede jaar was die plafon in die voorportaal, formele eet- en sitkamer, studeerkamer en hoofslaapkamer bykans heeltemal verwoes. Daar was darem nog plek-plek plafonne in die gang, kombuis, spens en in die vertrek waar kosbare items in glaskaste vertoon is.

Alles is nou egter bouvallig. Die gedeelte van die dak wat ingetuimel het, was dié van die hoofslaapkamer, badkamer en studeerkamer. Die grootste gedeelte van die voorportaal is ook nou dakloos gelaat.

Die Modimolle-familiewoning van adv. JG (Hans) Strijdom, vyfde premier van die destydse Unie van Suid-Afrika (November 1954 tot en met sy afsterwe op 24 Augustus 1958), is in die 1920’s gebou. Dit is sedert 1975 as museum bedryf, maar is vyf jaar gelede vir die publiek gesluit weens die erg verwaarloosde en bouvallige toestand. Dit is veral die dak en plafon wat die ergste deurgeloop het omdat termiete en water groot skade aangerig het. Die huis se oorspronklike grasdak is in 1948 met leiklipteëls vervang. Groot krake in die mure wys dat die fondasie en leiklipdak oor die jare gesak het omdat die leiklipteëls vermoedelik te swaar was vir die struktuur

Volgens Van Staden behoort die eiendom en perseel aan die nasionale departement van openbare werke wat beteken hulle is verantwoordelik vir die instandhouding daarvan. “Hierdie departement behoort hul koppe in skaamte te laat sak,” het sy na afloop van die tragedie aan Die Pos gesê.

Sy het voorheen vertel dat daar jare lank gepoog is om dié museum te red.

“Ongelukkig beskik die departement van sport, kuns en kultuur nie oor stoorplek vir historiese items nie en is die hulp van die Erfenisstigting by die Voortrekker Monument in Pretoria ingeroep. Die munisipaliteit het ’n bruikleenooreenkoms met die stigting aangegaan om van die items in die huis Pretoria toe te verskuif vir veilige bewaring,” het sy gesê.

Die borsbeeld wat in 1972 op Strijdom-plein in Pretoria se middestad opgerig is en op onverklaarbare wyse in 2001 inmekaar getuimel het, staan sedert 2003 in die tuin.
Die Erfenisstigting se span, onder leiding van Jaco Cilliers, afdelingshoof van erfenisbewaring, het binne twee dae al die historiese items en meubels in die museum verpak en dit verlede jaar op 27 Augustus na Pretoria geneem.

  • Die Erfenisstigting is in 2002 as ’n maatskappy sonder winsmotief gestig en speel ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse kulturele erfenisbewaring. Volgens Cilliers poog die stigting om lede van die publiek bewus te maak van ons bedreigde erfenis deur die behoud, bewaring en volhoubare benutting van erfenishulpbronne.

Intussen word van die meubels en kultuurskatte in terme van ’n bruikleen-ooreenkoms in die nuwe “Ouma se huis”-museum in Parys (Vrystaat) uitgestal. Dié museum het sy deure op Saterdag, 25 Junie, vanjaar ge-open.

Related Articles

Back to top button