Local news

‘Ons kan nie meer so leef nie,’ pleit Modimolle se inwoners

“Ons kan nie meer so leef nie,” pleit inwoners van Modimolle wat sedert 2019 by die plaaslike owerheid smeek om die voortslepende rioolprobleme in die laerliggende dele van die dorp (in Wyk 11) op te los.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle- Mookgophong-munisipaliteit, het inwoners van die Jasnia-kompleks in Joe Slovostraat, reg langs die Klein-Nylrivier, op Vrydagoggend, 26 Augustus, besoek. Saam met haar was Christopher Mahlaule, uitvoerende hoof van tegniese dienste (elektrisiteit, paaie, water, stormwater en sanitasie) en Thabang Selemela, afdelingshoof van water en sanitasie. Krappie Botes het die inwoners van die 20 skakelhuise in die kompleks verteenwoordig.

Die Pos was ook daar en het die mangat op die kompleks se sypaadjie (in Joe Slovostraat), asook die mangat etlike meter daarvan af, net binne die kompleks se palissadeheining, gesien waar rioolgemors uit stroom. Volgens die inwoners stroom die riool sedert 2019 gereeld by hierdie mangate uit weens blokkasies verder af in die riool-pyplyn.

Reg oorkant die Jasnia-kompleks aan die oorkant van die rivierbedding is ’n konstruksiemaatskappy wat sand en klip voorsien. Dit is glo daar waar die blokkasie in die pyplyn etlike jare van te vore ontstaan het.

Mahlaule en Selemela het albei aan Die Pos erken dat hulle bewus is van die blokkasies op die konstruksiemaatskappy se perseel, want die munisipaliteit se span het glo al voorheen groot klippe, stukke van motorbande en ander gemors uit die mangate gehaal.

Volgens Selemela het die aansluiting van Phagameng se Uitbreiding 10, skuins bokant die ModiMall, ook geweldige druk op die reeds oorlaaide rioolnetwerk geplaas. Soos hierdie gedeelte van die township aanhou uitbrei het, het die rioolprobleme in Limpopostraat, wat parallel loop met die rivierbedding, net vererger.

Inwoners van die Jasnia-kompleks in Joe Slovostraat in Modimolle pleit by die plaaslike owerheid om dringend die voortslepende rioolprobleme in die laerliggende gedeeltes in die dorp aan te spreek. Die eens pragtige uitsig oor die rivierbedding van die Klein-Nylrivier wat rustig deur die dorp vloei is die afgelope vier jaar ‘n stinkende rioolgemors wat tot bykans teenaan hul grensheining vloei. Inwoners vertel dat hulle nie durf waag om hul huise se venters oop te maak nie, want die verstikkende reuk, wat in die warm Somermaande vererger, laat selfs die kos na riool smaak. Hoewel die munisipaliteit eersdaags ‘n gedeelte van die rioolpyplyn gaan opgradeer gaan dit nog etlike maande neem voordat inwoners enige verbetering gaan sien (en ruik!). Op die foto links staan Thabang Selemela (afdelingshoof van water en sanitasie) en Christopher Mahlaule (bestuurshoof van die tegniese afdeling) saam met Krappie Botes wat die inwoners van die Jasnia-kompleks verteenwoordig, by die riool wat tot teen die kompleks se grensheining vloei.

Die munisipaliteit het einde Augustus weer ’n hoëdrukwaterpompvoertuig gehuur om die dringendste rioolprobleme in die dorpe wat onder die munisipaliteit val, te probeer verlig. Dié voertuig het saam met die plaaslike munisipaliteit se sanitasiespan in Alma begin waarna dit op Vrydag 26 Augustus na Modimolle gestuur is.

Volgens Selemela sal die sanitasiespan by die rioolsuiweringsaanleg in Phagameng begin en heel eerste die bykans 1,5 km pyplyn, parallel met Limpopostraat, tot by Hagenstraat probeer skoonspuit met die hoëdrukvoertuig.

“Daar is verskriklik baie sand in die pyplyn wat talle blokkasies vererger of veroorsaak,” het hy gesê.

Die owerheid was genoodsaak om middel Mei ook die voertuig vir bykans drie weke te huur.

Volgens Van Staden het die munisipaliteit in die vorige boekjaar reeds aansoek gedoen by die Limpopo-departement van water en sanitasie om finansiële hulp sodat die rioolnetwerk opgegradeer kan word. Groot gedeeltes van die pyplyne moet vervang word met pype wat ’n groter deursnee het, asook die talle mangate wat herstel of herbou moet word sodat daar nie soveel grond in die pype inspoel wanneer dit reën nie.

Selemela het bevestig dat die owerheid reeds die projekplan met die betrokke ingenieurs bespreek het sodat hierdie projek eersdaags kan afskop. Die munisipaliteit is tans in die proses en beoog om teen middel September die kontrakteurs by die rioolaanleg te laat begin. Die projek gaan na raming 18 maande neem om te voltooi.

Intussen word inwoners gevra om geduldig te wees. Hulle word ook gemaan om nie vreemde voorwerpe soos kledingstukke, klippe, bourommel, weggooidoeke en sanitêre produkte in die rioolstelsel te gooi nie. Diervet en kookolie veroorsaak ook baie blokkasies omdat dit met die sand, wat reeds in die pyplyn is, meng en byna soos sement word wat alle watervloei tot stilstand bring.

Volgens die owerheid is dit veral supermarkte en kitskosplekke wat skuldig is.

Related Articles

Back to top button