Crime

N1-slagoffer vertel van traumatiese ervaring ná rooftog op snelweg

Die Bela-Bela-inwoners wat verlede week op die N1-snelweg deur rowers oorval is, is steeds getraumatiseerd en probeer nog om die ondervinding te verwerk.

Volgens die polisie het die voorval in die vroeë oggendure van Dinsdag, 23 Augustus, tussen die Codrington- en Lehau-oorbrûe in ’n suidelike rigting op die N1-snelweg plaasgevind.

Twee van die slagoffers is bekende broers van Bela-Bela, Jaco en Dawie de Jager. Die bestuurder wat saam met hulle was, wil nie geïdentifiseer word nie. Al drie is aangerand nadat een van die twee voertuie waarmee hul gereis het, ’n groot klip op die padoppervlakte getref het en die voertuig beskadig is.

Die De Jagers is bekend vir die vars groente en vrugte wat hulle op die Pretoria-mark koop en dan na sakeondernemings in die dorp versprei.

Jaco het die oggend in ’n Toyota Yaris gery, gevolg deur Dawie en die bestuurder  van die afleweringsvoertuig.

“Dinge het werklik so vinnig gebeur. Ek kan nie bepaal of die klip reeds in die pad geplaas is en of dit voor my ingerol is nie. Ek het probeer uitswaai, maar die klip het die voertuig se voorste buffer gebreek en een van die bande is beskadig,” het Jaco vertel.

Hy kon sowat 2 km aanry voordat hy die Yaris van die pad moes trek. Die ander voertuig het ook stilgehou en ons het uitgeklim om die skade te bepaal.

“Terwyl ons die wiel omgeruil het, het ek gesien hoe ’n Nissan NP-200 oorkant die pad stilhou en ’n man het uitgeklim. Dit het gelyk asof hy ’n draai in die veld wou loop en ons het nie verder ag geslaan op hom nie. Toe ek weer kyk was hy weg.”

“Nadat die wiel omgeruil is, het ek met die stukkende band gestap om dit in my voertuig se kattebak te laai. Die volgende oomblik het ’n man op my afgepeil en ek het gesien hoe hy ’n pistool oorhaal. Hy het verskeie kere ‘Voertsek! Voertsek!’ geskree.”

Nog mans het uit die donker, van waar hul voertuig gestaan het, te voorskyn gekom.

Jaco het dadelik op die grond neergeval.

“Ek het instinktief my selfoon in my onderbroek probeer wegsteek. Die rowers het eers die bestuurder, toe vir Dawie en laaste vir my dieper die bosse ingedwing en gevra waar die geld is.”

Jaco het gesê hulle ry selde met kontant mark toe. “Ons het gewoonlik net geld vir tolhekke, brandstof en ’n koeldrank of twee. Ek het werklik gedink dit is die laaste keer dat ek vir Dawie gaan sien. Ek het maar gelê en bid. Die rowers het hul pistool teen my kop gehou en aanhou vra vir kontant. Hulle het my gevra waar my selfoon is en ek het hulle om die bos probeer lei. Hulle het my deursoek en toe hulle die foon kry, was hul baie hardhandig met my.”

Die rowers het Jaco laat opstaan, sy baadjie laat uittrek en dit gevat. Hulle het hom daarna op die grond gegooi en hom geskop, het hy vertel.

“Hulle het later weggestap. Een van hulle het my kar se sleutels na my teruggegooi en gesê: ‘Fix your car and go’. Toe hulle verdwyn het, het ons al drie opgespring en ons na die trok gehaas om by Mantsole-weegbrug te gaan hulp soek.”

Die verkeersbeamptes daar was volgens hom uiters hulpvaardig.

Die polisie is geskakel en die verkeersbeamptes het die drie teruggeneem na waar die Yaris gestaan het.

Lt.kol. Annemarie Smith en konst. Pieter Scheepers van die Bela-Bela-polisie het ook bystand verleen.

“Dit was ’n traumatiese ondervinding. Ons dank net die Here dat ons steeds leef en is dankbaar vir ons ongelooflike ondersteuningsnetwerk. Ons ontvang berading by ds. Otto Clasen van die NG Moedergemeente.”

Die soektog na die verdagtes duur voort.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button