Local news

Inwoners is bekommerd oor mynbedryf naby Bospoort

Inwoners van Bospoort in Bela-Bela kla al geruime tyd oor die toename in groot vragmotors wat sand in die omgewing aanry.

’n Afvaardiging van die Bela-Bela-munisipaliteit en ander rolspelers het die betrokke terrein op Donderdag 18 Augustus besoek.

Bospoort is ’n landelike omgewing met pragtige natuurlike Bosveld-plantegroei wat die omgewing uniek maak omdat dit so naby aan die dorpsgebied is.

Dié rustigheid is nou moontlik in die gedrang nadat daar ’n aansoek by die departement van minerale hulpbronne en energie ingedien is vir die totstandkoming van ’n myn by Bospoort.

Die ligging van die beoogde myn is op gedeelte 22 (Farm Bospoort 450 KR) wat op die grondpad is wat reg voor die Intaba Indle-wildreservaat se hoofingang verby loop.

Die kennisgewing vir die totstandkoming van die myn het op Vrydag 19 Augustus in Die Pos verskyn.

Die aansoeker, Build Now Sands and Depot, beoog om sand op die stuk grond te ontgin en dan per vragmotor weg te voer.

Die eienaar het na verneem word reeds met mynaktiwiteite begin wat gelei het tot die munisipaliteit se besoek aan die toneel.

“Die eienaar kon geen mynlisensie aan ons toon nie. Die mynbedrywigheid is intussen gestaak hangende die aansoek om ’n mynlisensie te bekom,” het Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, by navraag aan Die Pos gesê.

Hy het gesê inwoners wat gekant is teen mynbedrywighede in die omgewing, moet die geleentheid gebruik om by wyse van ’n formele proses beswaar te maak deur die amptelike platform wat in die koerant verskyn het, te kontak.”

Hoewel min inwoners van die aktiwiteite kennis dra, heers daar kommer dat die rustigheid van die omgewing deur mynaktiwiteite versteur kan word en dat die paaie in die omgewing verder kan versleg indien swaarvoertuie die pad gereeld gebruik.

Daar is verdere kommer dat die ontginningsproses gronderosie kan veroorsaak.

Inwoners het tyd tot op Maandag 19 September om besware aan die konsulteringsmaatskappy, Yadah Consulting, te stuur na Yadah.consult@gmail.com(.)

Vir telefoniese navrae kan mense vir TJ Magagula bel by tel. (013) 001 2901 of tel. 073 875 0228.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button