Blogs

Hoofartikel: Die Pos kry nuwe bloed

My onderhoud as junior verslaggewer by Danie Stoltz, Die Pos se vorige eienaar en redakteur, was een van die vreemdste ervarings.

Hy was bot. Eintlik heel onbeskof. Hy het heeltyd aangegaan met sy werk en nie juis opgekyk nie. “Ek hoop jy besef ek kan jou nie betaal wat Beeld jou betaal het nie,” het hy gegrom. “Ek het geprewel ek besef dit en aanvaar dit. “Ek kan nie so by die huis sit nie,” het ek gesug, “ek gaan mal word”. Ek het in my jeugdige naïwiteit my werk in Pretoria prysgegee om te trou en na Bela-Bela (toe nog Warmbad) te trek. Werkloos. Met studieskuld en niks op my naam behalwe die liefde nie.

“Ek wil dit nie op my boekie hê dat ’n vrou mal word nie; so begin maar môre,” het Danie gesê. Die onderhoud was verby. Die volgende oggend was hy nie op kantoor toe ek stiptelik om 07:55 opdaag nie. Niemand het geweet van my aanstelling of posbeskrywing nie. Daar was ook nie vir my ’n kantoor of tafel nie.

Ek het in die voorportaal by Wilna Cronjé bly sit terwyl sy aan een sigaret na die ander teug en my op en af bekyk. Haar dogter, Deoné Botha, wat die finansies hanteer het, het ook skouerophalend gesê sy weet niks van my koms nie.

Danie het twee ure later by die kantoor ingewaai — duidelik vergeet van my aanstelling — en vir Kabous (Wilna se seun) in die uitlegkantoor gegil om vir my ’n tafel in die gangetjie op pad na die toilette te skuif.

Ek het my berigte met die hand geskryf en iemand anders het dit ingetik op die enkele “komper”. Die donkerkamertjie waar ons swart-en-wit foto’s ontwikkel het, het na chemikalië ge-
ruik. Ons bode se naam was Apie en saans het mense anonieme bydraes vir Ons Hoor onder die deur gestoot.

Smiddae, wanneer Danie gesê het hy gaan Supply Store toe, maar in die rigting van Paul’s Pub & Grill verdwyn het, het Christo Breedt, die eienares van Jeannes Modes langsaan se seun, by my kom sit en vir my sy plakboeke van bruide en motors gewys. Christo, wat aan Downs-sindroom gely het, kon ure lank sit en teken. Soms het hy my geteken met ’n bruidsluier en trourok aan en gesê hy wil eendag met my trou. As ek wegkyk, het ek soms sy vet handjie gesien wat een van my potlode gaps en onder sy hemp versteek.

Baie jare later het Danie vir my in ’n brief geskryf: “As ek jou ooit iets sou kan leer — moet nooit ’n groot boom word nie. Word ’n struik of ’n roosboom wat saam met ander struike ’n tuin verfraai, saam die omgewing verbeter, saam tot voordeel van almal en die omgewing optree. Daar is nie plek vir prima donnas by ’n koerant nie.”

Danie, Christo, Wilna en Deoné is almal reeds oorlede. Jeannes Modes bestaan nie meer nie en Die Pos is weg uit Sutterweg. Niemand ontwikkel nog foto’s in donkerkamers nie en rook is verbode in openbare plekke.

Aan dít — en aan nog baie ander dinge — het ek vandeesweek gedink toe ek my kantoor by Die Pos begin opruim het om ná 27 jaar plek te maak vir Die Pos se nuwe redakteur, Charmaine Lourens, wat op Donderdag 1 September 2022 die leisels by my oorneem.

Die Waterberg en sy mense is so mooi, Charmaine. Mag daar ook mense soos Christo in jou nuwe kantoor en in jou hart kom kuier. Mag die personeel en lesers jou omarm. Mag jy ’n struik of ’n roosboom in ons omgewing word. En bowenal, mag Die Pos se drukkersink jou toekoms lieflik inkleur.

Related Articles

Back to top button