Local news

Aikona, sê Modimolle: Verloren is óns s’n

Die munisipale afbakeningsraad (MAR) sal na verwagting die munisipale grense tussen Modimolle en Bela-Bela wysig nadat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit ’n versoek aan die MAR gerig het.

Die gebied wat tans onder die soeklig val is die Verloren Landgoed op die R101-pad tussen Bela-Bela en Modimolle wat op die grens tussen die twee dorpe geleë is.

Een gedeelte inwoners betaal belasting aan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en die ander aan die Bela-Bela-munisipaliteit.

Die DA in Bela-Bela poog al jare lank om Verloren in een munisipale gebied geplaas te kry.

Die MAR pas elke vyf jaar wyk- en munisipale grense in metropolitaanse- en plaaslike munisipaliteite aan.

Nuwe wyksgrense word gewoonlik voor munisipale verkiesings bepaal omdat kiesersgetalle in ’n gebied kan toe- of afneem.

Wysigings word ook gedoen sodat munispale dienste aan sekere gemeenskappe of inwoners verskaf kan word en belastings gehef kan word.

Die proses om munisipale grense te wysig vind eers na afloop van ’n munisipale verkiesing plaas en kan tot twee jaar neem om gefinaliseer te word.

Die proses moet egter binne ses maande voor ’n nasionale verkiesing voltooi wees vir die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) om die akkurate en regverdige aantal kiesers binne ’n munisipale gebied te bepaal.

Die MAR het tussen November 2021 en Maart vanjaar aansoeke vir die wysiging van munisipale grense van die publiek en amptenary ontvang. Die proses het reeds gesluit vir ander aansoeke.

Die DA het op Vrydag 29 Julie tydens die jongste openbare raadsvergadering beswaar aangeteken omdat die mosie wat hulle reeds etlike dae voor die vergadering by die munisipale bestuurder en speaker ingedien het, nie op die agenda geplaas is nie.

Die DA voer aan dat miljoene rande se uitstaande belasting nie aan die Bela-Bela-munisipaliteit oorbetaal word nie, maar wel aan Modimolle-Mookgophong.

Die ander mosies wat ingedien is handel onder meer oor bewerings van onwettige watertoevoer na ’n gastehuis en dat aftreeoorde soos Renaissance en Tuin Tuiste buitensporige bedrae vir krag betaal.

Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester, het op die raadsvergadering gesê al is die mosies nie op die agenda geplaas is nie, is amptenare en die raad bereid om die sake te bespreek.

Die raad benodig egter tyd om die mosies te bestudeer.

Speaker Nellie Zikhali het geen verdere bespreking toegelaat nie waarop die DA-raadslede die raadsaal uit protes verlaat het.

Marlene van Staden, Modimolle-Mookgophong-burgemeester, het by navraag gesê die Modimolle-munisipaliteit het die aansoek gebring om Verloren onder Modimolle se munisipale distrik te plaas.

“Ons het die versoek aan die MAR voor die sluitingsdatum gerig om Verloren as een gebied onder ons distrik te registreer. Ons sal waarskynlik eers in Oktober uitsluitsel hieroor kry. Die belastingbetalers wat tans in die Bela-Bela-gedeelte woon, het nog nooit aan die Modimolle-munisipaliteit enige belasting betaal nie,” het sy gesê.

Die DA-raadslede verwag intussen dat die Bela-Bela-amptenare deeglike ondersoek instel en seker maak dat enige belasting wat verskuldig is in die regte munisipaliteit se rekening betaal word.

Indien die MAR die aansoek goedkeur en die gebied onder Modimolle plaas, sal die Bela-Bela-munisipaliteit nie meer belasting van dié gebied kan invorder nie.

Die moontlike wysiging in grensgebied sal ook kiesers in die toekomstige nasionale verkiesing in 2024 en die munisipale verkiesing in 2026 raak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button