Local news

Gelofte-komitee onderneem slagveldtoer

Die Springbokvlakte Geloftekomitee van Roedtan het vroeg in Augustus besluit om ’n toer te onderneem om die Slag van Bloedrivier se terrein en dié van ander slagvelde in daardie omgewing te besoek.

Volgens Albert Pienaar, voorsitter van die komitee, het Floris Booysen vir Mauritz Hansen, bekende geskiedkundige van Mookgophong, genader om die toer te lei. Hulle het op Vrydag 5 Augustus vanaf die Roedtan-veilingskrale vertrek.

Hansen het eers ’n kort oorsig van die toerprogram gegee en nadat hy geopen het, het sommige toerlede met ’n bus van die Hansies vertrek terwyl ander toerlede met eie vervoer in ’n konvooi gery het. Die toer het deur Marble Hall, Groblersdal, Middelburg, Hendrina, Amersfoort en Volksrust gery en Hansen het voor elke dorp inligting en geskiedenis oor die betrokke plek op ’n stemboodskap na die toerlede gestuur.

“Ons fokus was om die Slag van Bloedrivier se terrein te besoek, maar terwyl ons daar was en die geleentheid gehad het, het ons ook by Talana in Dundee, waar ’n skermutseling tydens die Tweede Boereoorlog plaasgevind het, aangedoen,” het Pienaar gesê.

By Bloedrivier in Die Dundee-distrik aangekom, het Hansen aan die toerlede vertel van die 12 wonderwerke wat daar tydens die Slag van Bloedrivier plaasgevind het.

Die groep het ook by Isandlwana en Roke’s Drift aangedoen wat slagvelde tussen die Zoeloes en Engelse-troepe was. By Majuba, wat ’n bekende veldslag tydens die Eerste Boereoorlog was, het die toerlede die berg uitgeklim tot bo en daar die ou Transvaalse Volkslied gesing.

“Dit was ’n ongelooflike en verrykende ervaring. Dit was ook aangrypend om te sien waar en hoe ons voorouers ontberings moes trotseer,” het hy gesê.

Pienaar was die toerleier en verantwoordelik vir die 57 mense wat die toer meegemaak het. Hulle het vir twee aande by Fort Mistake oorgebly en op Sondag 7 Augustus weer die terugtog aangepak.

Die laaste stilhouplek was by die ou Paul Kruger-brug by die Vaalrivier tussen Amersfoort en Ermelo waar Hansen die geskiedenis van die Berg en Dal-slagveld vertel het.

Related Articles

Back to top button