Local news

Augustus-winde maak brandgevaar baie groter

Die warm Augustus-winde wat tans waai, maak die brandgevaar in die Waterberg-omgewing baie hoog.

Al is daar wette om brande te beheer, rus die onus steeds op elke grondeienaar om die nodige voorkomende stappe te neem om hul grond te beskerm.

Die erns van brandgevaar is weer op Donderdag 11 Augustus tydens die plaaslike veiligheidsvergadering by die Bela-Bela-polisiestasie deur Arnaud le Roux, bestuurslid van die Bela-Bela brandbeskermingsvereniging, beklemtoon.

Die nasionale brandverbod het in Mei in werking getree en duur totdat genoeg reën in die omgewing geval het. Dit kan sommige jare eers in Oktober opgehef word. Die wet bepaal dat mense onder geen omstandigheid ’n oop vuur mag maak nie — soos die brand van asgate of die maak van blok- of voorbrande op privaat en munisipale grond.

Le Roux het tydens die vergadering beklemtoon dat die nasionale beperkings op alle grondeienaars van toepassing is.

“Ons is tans in ’n hoërisikotydperk, wat gewoonlik van Augustus tot Oktober, duur. Ligte- tot sterk stormwinde is in hierdie tyd algemeen en kan klein, oop vure maklik in ’n katastrofe omskep.”

“Mense wat brande stig in die verbodtydperk sal in hegtenis geneem word. Dit is jammer dat sekere grondeienaars ons wetstoepassers, wat die goedkeuring van die minister van landbou dra, uitskel wanneer daar teen hulle opgetree word. Die wet erken eienaarskap van grond en daarom bly die grondeienaar verantwoordelik wanneer daar nie binne die raamwerk van die verbod opgetree word nie.”

Die brandskermingsvereniging bestaan sedert 2009 en is saamgestel uit rolspelers van verskillende sektore wat toesien dat die risiko vir wegholveldbrande in die omgewing verminder.

“Plaaslike munisipaliteite is self in gebreke met die voorbereiding van brandbane om munisipale gronde om brande te voorkom. Die wet bepaal dat hulle deel word van ’n brandbeskermingsvereniging. Mense se lewens kan in gedrang wees as wegholbrande buite beheer raak.”

Le Roux het dit onder die lede se aandag gebring dat slegs die brandbeskermingsvereniging en die departement van landbou die reg het om brandpermitte uit te reik tydens die brandverbodtydperk. Munisipale amptenare het nie die magtiging om permitte uit te reik nie. Grondeienaars moet toesien dat hulle vooraf goedkeuring kry as hulle brandbane of beheerde blokbrande wil maak.

“Of mense op ’n 1 ha- of ’n 1 000 ha-stuk grond woon of werk, enige onbeplande brand beteken skade en verlies. Dit plaas enorme druk op enige aangrensende grondeienaars, die plaaslike brandweerdiens, asook die Working on Fire-vuurvegters wat moet inspring as ’n brand in ’n gebied uitbreek. Dit is beter om proaktief te wees en nie nalatig nie,” het Le Roux gesê.

  • Om in verbinding te tree met die onderskeie brandsektorleiers van die brandbeskermingsvereniging in die Bela-Bela-omgewing, kan mense die volgende nommers vir advies en nood skakel of ’n e-pos stuur:

Sondela (084 788 9291: mel@sondela.com), Droogekloof: (083 227 9561) of ben@scanco.com), Baviaansberg (082 325 6578 of arnaudleroux109@gmail.com), Mabalingwe: (083 680 1880 of matie@wbpm.co.za), B&B Buurtwag (078 457 2634) of annatem@gmail.com) en Klein-Kariba (064 318 0168) of rockingnursery@gmail.com).

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button