Schools

Ma’s en dogters kuier saam by Hansies

Die meisies van die verteenwoordigende leerderraad (VLR) van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong bied elke jaar ’n unieke geleentheid aan waar ma’s en dogters saam ’n heerlike aand van gesellige samesyn geniet.

Hierdie geselligheid is vanjaar op Woensdag 3 Augustus in die skoolsaal aangebied.

Hanri de Jager, onderwyser en kultuurhoof by die skool, het vanjaar aan die stuur van sake gestaan. Die VLR-meisies het self die tafels volgens hul eie temas gedek en al die tafels het spoggerig gelyk.

Die wenner van die gedekte tafels was Lavoné Janse van Rensburg en haar ma, Cindy.

“Die geleentheid was heerlik en ons het baie positiewe terugvoer van die gaste ontvang,” het De Jager gesê.

Doné van Wyk van Mogale City (Krugersdorp) was die gasspreker. Die tema van haar praatjie was:

“Negatiewe denke maak jou dommer”. Volgens haar kan dit selfs ’n mens se DNS verander indien jy voortdurend negatiewe denke koester. Sy het die meisies en hul ma’s aangemoedig om altyd positief te wees en sodoende vir ander mense ook hoop te gee en die gemeenskap “gesond” te hou.

Danny Dippenaar van die bekende Afrikaanse sanggroep Twee het as gaskunstenaar opgetree. Sy is ook ’n sangafrigter by ’n groot musiekskool in die stad. Dippenaar is die dogter van die De Jager-egpaar van Hoërskool Hans Strijdom en tree gereeld by talle geleenthede op.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button