Local news

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die Pos se landbou-bylae wat in Julie as deel van die koerant verskyn het, is deur die Caxton-mediagroep aangewys as maandwenner van alle bylaes in gemeenskapskoerante in dié groep se stal. Willie Nel was verantwoordelik vir die uitleg, die advertensiespan onder leiding van Maria Oberholzer het die advertensies gewerf en die nuusspan het vir die berigte gesorg. Die beoordelaars het die bylae geprys as nuuswaardig met sommer heelwat positiewe landbounuus, interessante stories en waarde vir geld vir die adverteerders.
Die Pos se personeel in Modimolle het in Februarie vanjaar ’n waterlekkasie op die hoek van Vos- en Kerkstraat, by die plaaslike owerheid aangemeld. Nadat die munisipaliteit se tegniese span die klagte ondersoek het, is ’n groot gedeelte van die sypaadjie in Vosstraat, reg voor Assupol se kantoor, oopgegrawe om die hoofpyplyn te herstel. Die herstelwerk het bykans vyf maande geneem en die gat is uiteindelik op Dinsdag 26 Julie weer toegegooi. Intussen het daar ’n nuwe lekkasie onder die padoppervlak gevorm, skaars 5 m van waar die waterpyp herstel is. Hierdie lekkasie is gelukkig op Dinsdag 2 Augustus deur Van Waveren-loodgieters se bekwame span herstel met behulp van privaat befondsing. Wiets Botes, nuutverkose wyksraadslid het gesê: “Ons wil graag die munisipaliteit en Van Waveren-loodgieters bedank vir die herstelwerk. Amptenare moet voortaan meer aandag skenk aan die onderhoud van ons dorp se infrastruktuur.”

Related Articles

Back to top button