Local newsNews

Mandeladag: Modimolle-bejaardes word heerlik bederf

Inwoners van Ons Hoop Waterberg-dienssentrum in Modimolle is op Maandag 18 Julie deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bederf ter viering van Mandela-dag.

AO James Findlay het aan Die Pos vertel hy het die projek, in samewerking met lt.kol. Lisa Vorster, hoof van SAPD-ondersteuningsdienste in Modimolle, geloods.

Met die geld wat ingesamel is, is geskenkpakkies met lekkergoed en vrugtesap opgemaak. Judith Dreyer van Judith’s Bakery het gesorg vir heerlike pakkies tuisgebakte beskuit vir elke geskenkpakkie. Sy en haar dogter, Nicolene Findlay, het ook kolwyntjies versier en aan die bejaardes geskenk.

Plaaslike boere het beesvleis en bykans ’n bakkievrag vars groente soos kool, avokadopere, botterskorsies en soetpatats geskenk.

Corrie Oliver (86), oudste inwoner, woon al 35 jaar in Modimolle waarvan die afgelope vier jaar in die Ons Hoop-tehuis is. Sy het gesê dit is ’n wonderlike voorreg om so oud te word en sy leef elke dag met dankbaarheid.

Elouis Hooneberg, wat die Ons Hoop-tehuis die afgelope 20 jaar bestuur, het aan Die Pos gesê die tehuis het in 2000 as welsynsorganisasie vir bejaardes geopen. “Daar is tans 21 inwoners wat almal selfversorgende bejaardes is. Omdat ons geen regeringshulp ontvang nie, bak ons amper elke Vrydag eetgoed om geld in te samel. Dit wissel van kerrie-en-rys, vetkoek, pannekoek, ontbytbroodrolletjies of boepensbroodjies.”

Inwoners wat graag betrokke wil raak, kan die tehuis skakel by tel. (014) 717 1401 of tel. 071 502 8980 vir meer inligting.

  • Die oorspronklike gebou is in 1929/1930 opgerig as een van twee skoolkoshuise wat deur die drie susterskerke van die destydse Nylstroom befonds is om behuising te voorsien aan kinders van die omliggende plase. Ons Hoop was die meisieskoshuis en Ons Toekoms die seunskoshuis wat op ’n perseel langs die huidige Hoërskool Nylstroom gebou is. Daar was destyds slegs een skool op Nylstroom vir laer- en hoërskoolleerders. Die huidige hoërskool is in 1954 gebou.

Lede van die Agang Setshaba Foundation, ’n liefdadigheidsorganisasie in Bela-Bela, het op Maandag 18 Julie (Mandela-dag) na die Warmbad-hospitaal uitgereik en vir pasiënte en personeel ontbyt verskaf. Lede van die plaaslike Working on Fire-span het met die uitdeel van die kos en koffie gehelp. Benjamin Molekwa, voorsitter van Agang, het gesê hulle verskaf elke Dinsdag en Donderdag kos aan mense by die hospitaal. Agang is volgens hom ook betrokke by skool- en voedingsprojekte. Vir navrae en bydraes kan mense hom bel by tel. 072 306 6624 of vir Piet Lebelo by tel. 083 988 9306. Op die foto deel die helpers kos uit aan pasiënte by die hospitaal.

Related Articles

Back to top button