MunicipalNews

Padopgraderings het grondeienaars bekommerd

Die grootskeepse padopgraderings wat vir die begin van 2023 in die Waterberg-omgewing beplan word, is goeie nuus vir padgebruikers, maar grondeienaars is diep bekommerd oor ’n nuwe wending wat dié opgradering vir hulle inhou.

Van die inwoners langs die R516-pad tussen Bela-Bela en Thabazimbi word veral geraak.

Dit het aan die lig gekom dat van die grondeienaars se ingange op die R516 moontlik gesluit kan word omdat dit glo nooit wettig geregistreer is nie. Dit het veral sakelui diep bekommerd omdat hulle afhanklik is van toeriste wat by hul ingange in- en uitry.

Die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) het in Junie hul planne tydens ’n formele voorlegging by die Modimolle-munisipaliteit bekendgemaak.

Ses projekte is voorgelê waarvan padopgraderings in Die Pos se lesersgebied op die R33-, die R101- en R516-paaie vanaf Januarie 2023 aangedui word. Die beoogde datum vir voltooiing is 2025.

Hierdie paaie verbind Thabazimbi, Bela-Bela, Modimolle en Vaalwater.

Volgens die planne sal Chris Haniweg in Bela-Bela, Thabo Mbekistraat in Modimolle en Vaalwater se hoofroete deur die dorp ook opgegradeer word.

Die kontrakteurs van die Bvi Group het reeds met inwoners en sakelui van Bela-Bela vergader.

’n Gemeenskapsvergadering het op Woensdag 13 Julie by die Umoya-karavaanpark in Noodhulp buite die dorp plaasgevind. Inwoners wat direk geraak word deur die padopgraderings kon hul besware tydens die vergadering opper. Sakelui is veral bekommerd dat die duur van die projek en die moontlike sluit van ingange hul sakebedrywighede negatief sal beïnvloed.

Jeedee Cloete, VF-Plus-raadslid wat by die vergadering was, het gesê die padopgraderings is uiters noodsaaklik en kan op die lange duur voordele vir toerisme inhou.

“Sover my kennis strek is daar 71 eienaars wat direk geraak word. Dit sal veral ’n demper op sake plaas wanneer die ses Noodhulp-paaie wat na die onderskeie hoewes lei moontlik na net twee verander word.”

Die kontrakteur het inwoners meegedeel dat Sanral beoog om, met grondeienaars se toestemming, tydelike alternatiewe toegangspaaie te skep. Daar is egter geen aanduiding of die sogenaamde onwettige ingange na afloop van die projek weer gebruik mag word nie.

“’n Hele aantal grondeienaars het reeds bewyse getoon dat hul afritte wel wettig is. Die kontrakteur, Sanral en inwoners moet saam na alternatiewe opsies kyk, want die opgraderings moenie tot nadeel van bestaande sake-eienaars plaasvind nie,” het Cloete gesê.

Die Pos het navrae aan die Bvi Group gerig, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button