BlogsOpinion

Hoofartikel: Maak stil daardie storie

Nie so lank gelede nie sien ek uit my venster by Die Pos hoe trek Kotie Wagner se statige ryding voor ons kantoor in.

Links voor, fier en regop, sit ouma Katie Pretorius, bobaas-ouma, VLU-staatmaker, kosmaker, naaldwerkster en koekbakker van die Waterberg.

“Ouma Katie soek jou,” laat Kotie weet. “Sy het vir jou iets gemaak.” Ek gaan ondertoe en kniel op die vuurwarm sypaadjie langs die motor. Ouma Katie ruik na babapoeier en haar hande is koel.

Sy hou die mooiste klein skinkbordlappie vas. Self geborduur. Vir my gebring, sê sy, want sy weet ek hou van “ou goed”.

Ouma Katie is nie meer met ons nie, maar haar handewerk leef voort in ’n kwilt wat ek van al die ouma Katies in my lewe se geborduurde skinkbordlappies laat maak het. My eie ouma is in ’n gordyn uit fyn sakdoekies en in ’n tafeldoek vol doilies gewerk. My kinders is verweef in ’n mosaiek-raam van gebreekte porselein om my kaggel.

Daar is aandhandsakkies uit die vyftigs teen my mure en my pa se voosgevatte Hollandse kinderboeke in my boekrak.

Maar dié week is alles in bokse. Die mure is skoon. Die boekrakke leeg. Net die mosaiek om die kaggel bly.

Daar is iets ontsettend droewigs daaraan om af te skaal. Om in te pak; minder te maak; weg te gee. Kenners reken dat ’n mens deur ’n intense treurfase gaan wanneer jy moet afsien van goed wat vir jou spesiaal was.

“Kan ’n mens oor ’n asbak huil? Ja, ’n mens kan,” skryf FA Venter in sy boek Die keer toe ek my naam vergeet het.

“Hoe gaan ek die pragtige vlegsel van ons dogter, toe sy 15 jaar oud was, weggooi? Of die afgietsel van die grootste leeuspoor wat nog in die Kalahari gevind is?” vra Venter.

Elke tweede een met wie ek deesdae gesels wil oppak, minder goeters om hulle hê, kleiner leef, net die nodigste koop, weggee of verkoop.

Maar om dit te kan doen, moet ’n mens soms ’n storie in jou kop stilmaak. Aspris die dinkery smoor. Jou brein uithaal en wegkyk as die onthou jou wil oorweldig.

“Kan ’n mens oor ’n asbak huil? Ja, ’n mens kan.”

Related Articles

Back to top button