MunicipalNews

Liters water stroom straat-af in Modimolle

Terwyl inwoners van die hoërliggende dele van Modimolle bedags bykans geen water het nie, stroom daar drinkwater in ander strate af weens gebarste waterpype en lekkasies.

Daar is ook gereeld reservoirs in die woonbuurte wat weens nalatigheid ure aaneen oorloop en sodoende duisende kiloliters drinkwater verlore laat gaan.

Dié vermorsing van drinkwater word ook gemeld in die ouditeurgeneraal (OG) se verslag van die 2020/2021-boekjaar. Luidens die verslag gaan meer as 11% van die dorpe wat onder die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit val, se drinkwater verlore. Hierdie verlies aan water kan omgeskakel word in ’n verlies van ongeveer R10,4 miljoen vir die betrokke boekjaar.

In ’n mediaverklaring wat op Donderdag 7 Julie deur Johan Prinsloo en Neels Pretorius, proporsionele raadslede van die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), uitgereik is, word aangevoer dat die Donkerpoort-suiweringsaanleg reeds die afgelope vyf weke water aan Modimolle voorsien nadat daar vir geruime tyd gesukkel is met die verkryging van die nodige chemikalieë om die water te suiwer.

Magalies Water lewer ook weer die verlangde daaglikse kwota water aan die dorp. Vandalisme bly egter ’n probleem, want talle krane en pype, asook toerusting by boorgate, word deur vandale beskadig.

Dit het ook aan die lig gekom dat wanadministrasie glo die grootste oorsaak van swak dienslewering is. Pretorius en Prinsloo het aan Die Pos gesê die waterafdeling het glo nie genoeg voertuie in werkende toestand nie en daar is ook ’n tekort aan diesel wat beteken die spanne kan nie gou genoeg die lekkasies of gebarste waterpype herstel nie. Dit wil ook voorkom asof die werkers tuisbly op die dae wanneer hul span nie ’n voertuig tot hul beskikking het nie.

Weens die plaaslike owerheid se benarde finansiële posisie is daar ook gereeld ’n tekort aan materiaal om pype te vervang en lekkasies te herstel. Die herstel van verouderde asbespype is ook problematies omdat die spesiale staalklampe wat benodig word, peperduur is. Volgens ’n bron, wat verkies om anoniem te bly, moes hierdie asbespype lankal reeds met PVC-pype vervang gewees het, want die herstel van plastiekpype is aansienlik goedkoper.

Prinsloo het aan Die Pos vertel dat hulle talle waterlekkasies en rioolprobleme tydens hul ondersoek in Wyk 12 van Modimolle by die plaaslike owerheid aangemeld het.

Die nywerheidsgebied in Modimolle sukkel ook jare lank met rioolprobleme en waterlekkasies weens die verouderde infrastruktuur. Die waterpyp wat aan die begin van die jaar in Von Willighstraat begin lek het, het al groot skade aan die pad aangerig. Die water het tot in die geplaveide Oktaanstraat geloop sodat talle sakeondernemings se kliënte nie geredelik toegang tot die persele kon kry nie.

Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon, het aan Die Pos gesê sulke probleme het ’n negatiewe impak op besigheid en dit maak dit moeilik vir sakeondernemings om suksesvol sake te doen.

Volgens Goncalves het sakelui ingespring om die munisipale werkers op Donderdag 7 Julie te help om hierdie waterlek te herstel. Met behulp van Jaco Vosloo se trekkerlaaigraaf is die oorsprong van die waterlek — ’n versteekte watermeter met slegs ’n 20 mm deursnee pyp — opgespoor. Die werkers het die watermeter tot bo die grond gelig en die waterpyp herstel.

Nog ’n probleem wat in Wyk 12 van Modimolle voorkom, is die vermorsing van duisende liters drinkwater wanneer die reservoirs in Gholfstraat (reservoir A) en in Njalastraat (reservoir B) langs Bosveldsig-veiligheidsoord, oorloop.

Volgens die munisipaliteit se woordvoerder in die waterafdeling word reservoir A eerste gevul vanuit die Donkerpoort-aanleg wat hoёr is as die reservoir, waarna dit na reservoir B toe vloei.

Daar word dit in die hoёdruktoring gepomp sodat dit na die hele omgewing om Bosveldsig versprei kan word. Ongelukkig kan water nie tydens beurtkrag gepomp word nie wat beteken die reservoirs word oorvol en loop dan oor.

Inwoners is van mening dat hierdie situasie met genoegsame beplanning beter bestuur kan word deur die owerheid sodat kosbare drinkwater nie deurgaans vermors word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button