LettersOpinion

Brief: Samewerking gevra om onwettige bedrywighede te stuit

Die polisie kan nie langer alleen misdaad bekamp nie.

Kobus Hoffman, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus -lid van provinsiale wetgewer, Gauteng, skryf: 

Die VF-Plus se voorstel aan die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, om ’n samewerkingsooreenkoms tussen die polisie en private sektor te sluit om onwettige myners en kabeldiefstal aan die Wes-Rand te stop, is aanvaar.

Die party het tydens ’n vergadering tussen die VF-Plus, die kommissaris, die distriksmunisipaliteite van die Wes-Rand en RandWest, die plaaslike munisipaliteite van Merafong en Mogale City, mynhuise en die provinsiale departement vir minerale hulpbronne en energie, gesê die polisie kan nie alleen verantwoordelikheid aanvaar vir die voorkoming van wydverspreide onwettige mynbedrywighede en kabeldiefstal nie.

Alle rolspelers, asook privaat veiligheidsmaatskappye, moet betrek word.

Luidens die Gauteng-polisie se misdaadstatistiek vir die vierde boekjaar-kwartaal van 2021 (Januarie tot Maart) is 323 verdagtes in verband met onwettige mynbedrywighede aan die Wes-Rand in hegtenis geneem.

Die polisie voer weekliks operasies uit om onwettige myners vas te trek. Die onwettige groepe is ook in binnegevegte betrokke om hul myngebied te vergroot.

Mynhuise is tydens ’n raadsvergadering van die Merafong-plaaslike munisipaliteit in Carletonville versoek om privaat sekuriteitsmaatskappye te huur om mense te verhinder om myngrond onwettig te betree.

Dieselfde moet geld vir munisipaliteite wat privaat veiligheidsmaatskappye moet huur om infrastruktuur te beskerm.

West Village, ’n voormalige myndorp langs Mogale City (Krugersdorp), was onlangs vir tien dae sonder elektrisiteit nadat kragkabels verskeie kere gesteel is.

Die polisie kan nie langer alleen misdaad bekamp nie.

Die polisie, munisipaliteite, mynhuise en privaat veiligheidsmaatskappye sal moet saamwerk om die verwoesting wat onwettige myners en kragkabeldiewe saai, stop te sit.

Related Articles

Back to top button