Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Lede van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) Thabazimbi-tak het op Maandag 20 Junie, in samewerking met plaaslike sangers van die Lalalé Studio, inwoners en personeel van Huis Immergroen, ’n tehuis vir bejaardes, met heerlike verversings en sang bederf. Trane het gevloei toe treffers van vervloë se dae weerklink het. Lieselotte Smit, Nelita Janse van Rensburg en Carla Barnard (foto) het die bejaardes bederf met hul sang. Die ATKV-tak bedank die sangers vir hul meelewendheid en omgee vir die senior burgers.
Die Bela-Bela-polisie se kontaknommers het verander. Die amptelike nommers van die polisie se kliëntedienssentrum/aanklagkantoor is tel. (014) 736 9760/1 of tel. 079 889 5614. Inwoners wat in nood verkeer kan ook vir kol. Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, bel by tel. 082 565 8512, lt. kol. Piet Maswanganyi (sigbare polisiëringbevelvoerder) by tel. 082 414 2704, lt. kol. Annemarie Smith (speurtakhoof) by tel. 082 319 9336 of AO Johan Momberg (sektorbeampte) by tel. 082 729 0259.
Warmpatat: Inwoners van Modimolle is warm onder die kraag oor die onwettige storting van bourommel, tuinvullis, huishoudelike vullis, dooie hoenders en ander gemors in die veld agter die ModiMall-winkelsentrum. Sonja Beukes, bemarkingsbestuurder van die sentrum, het aan Die Pos vertel dat hulle op Maandag 11 Julie ’n vragmotor voorgekeer het wat besig was om tuinvullis daar te stort. Ongelukkig het die werkers geweier om die naam van hul werkgewer bekend te maak. “Hierdie gemors word bykans daagliks hier gestort omdat sommige inwoners en sakelui nie die moeite wil doen om hul vullis na die munisipale vullisstortingsterrein te neem nie,” het sy gesê.
Inwoners van Thabazimbi het op Saterdag 2 Julie hand in eie sak gesteek en die teerpad in die Spitskop-omgewing herstel. Spitskop bestaan hoofsaaklik uit landbouhoewes, wat ook ’n skool vir minderbevoorregte leerders insluit. Dié groep inwoners, in samewerking met die plaaslike gemeenskappolisiëringforum, het geld bewillig vir die koop van die teer en het toerusting gereël om die werk te voltooi. Op die foto is vrywillgers besig om die pad te herstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button