LettersOpinion

Brief: Era van staatskaping nie verby

Staatskaping vier veral hoogty op die derde vlak van regering of plaaslike regering.

Dr. Pieter Groenewald, leier, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), skryf:

Volgens pres. Cyril Ramaphosa het die finale verslag van die Zondo-kommissie ’n duidelike afsluiting van die “era van staatskaping” aangekondig.

Die VF-Plus verskil van die president hieroor.

Staatskaping vier veral hoogty op die derde vlak van regering of plaaslike regering. Indien dit daarom vier jaar geduur het om net sekere aspekte van staatskaping op provinsiale en nasionale vlak te ondersoek, is dit duidelik dat slegs die punt van die ysberg ontbloot is.

Hoofregter Raymond Zondo het self erken dat dit tien jaar sou duur om alles in die kommissie se mandaat te ondersoek. Dit dui op die reuse-omvang van staats-
kaping en die feit dat baie oortreders ongestraf gaan bly.

Die kommissie se laaste verslag was ook net die eerste stap in die ondersoek na staatskaping en korrupsie. Die vraag is watter gevolge en optrede uit die verslag sal voortspruit.

Waar mense se name in die verslag genoem word, moet daar nie op die laagste amptenaarsvlak met vervolgings begin word nie. Hoëprofielname moet eerste voor ’n hof gebring word om ’n sterk boodskap uit te stuur dat niemand bo die reg verhewe is nie.

Die realiteit is dat die gebrekkige ondersoek na derdevlak-korrupsie beteken dat korrupsie dáár steeds ongehinderd voortduur. Dit word weerspieël deur die deurlopende proses van kader-ontplooiing.

Ramaphosa is bekend vir sy woordespel oor optrede teen korrupsie, maar dit realiseer nie in dade op grondvlak nie.

Die VF-Plus sal daarom voortgaan om enige moontlike vorm van korrupsie te ontbloot en sal veral aandring op sterk optrede teen oortreders.

Dit is jammer dat die hoofregter en die president nie deurentyd oop kaarte met die mense van Suid-Afrika gespeel het oor die laat uitreiking van die verslag nie.

Zondo het wel gesê daar was talle uitdagings en hy wou ’n foutlose verslag oorhandig, maar hieroor moes hy die hele tyd openhartig gewees het. Waarom moet daar eers vrae en agterdog ontstaan? Dit was onnodig.

Ramaphosa moet besef indien hy in die eerste plek in die belang van die land optree en nie van die ANC, soos hy graag voorgee nie, sal hy oop kaarte moet speel met die mense van Suid-Afrika.

Related Articles

Back to top button