Local sportSport

Nylies-duiweklub skud hul vere reg

Wedvlugduiwe het op Saterdag 2 Julie ’n afstand van ongeveer 480 km afgelê vanaf Brandfort tot terug in Modimolle.

Lede van die Nylstroom-duiweklub is opgewonde oor die nuwe kompetisieseisoen wat in Junie vanjaar afgeskop het.

Altesame 114 duiwe is om 09:00 in die ope-afdeling losgelaat. Jaap Stolp, jarelange inwoner en sakeman van Modimolle, het skoonskip gemaak toe sy wenduif om 15:41 ingeklok het. Stolp se skoonseun, Johan Viljoen, moes tevrede wees met ’n derde en vierde plek. Hulle vlieg nou al bykans vyf jaar saam en is albei lid van die duiweklub.

Eben Erasmus, ook ’n bekende sakeman van Modimolle en stigterslid van die Nylstroom-duiweklub, se wenduif het ’n tweede plek behaal en het om 15:45 ingeklok.

In die afdeling vir jaar oue duiwe is 104 jong duiwe op Saterdag 2 Julie in gunstige weersomstandighede losgelaat. Eben Erasmus se jongduif het met die louere weggestap en het eerste om 15:26 ingeklok. Charles Lightfoot se jongduif het naelskraap die tweede plek om 15:27 behaal terwyl Hannes van Jaarsveld se jongduif om 15:36 ingeklok het vir die derde plek.

Die vorige naweek se bewolkte reënweer het sake bemoeilik en die duiwe is eers om 08:05 op Sondag 26 Junie in Klerksdorp losgelaat vir die ongeveer 280 km afstand. Daar was 130 duiwe in die ope afdeling waar Jurie Schoeman se wenduif om 11:33 ingeklok het. Hy het ook die vierde en vyfde plek behaal. Johan Viljoen se duif het om 11:40 ingeklok vir die tweede plek.

In die afdeling vir jaaroue duiwe is 106 jongduiwe losgelaat en weer het Jurie Schoeman met die louere weggestap toe sy jong duif om 11:33 ingeklok het. Jaap Stolp se jongduif het om11:40 ingeklok vir die tweede plek terwyl Eben Erasmus met ’n derde plek tevrede moes wees.

Die volgende kompetisie word beoog vir Saterdag 9 Julie vanaf Bloemhof oor ’n afstand van ongeveer 400 km. Belangstellendes kan vir Peet Venter bel by tel. 084 512 5684 vir meer inligting.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button