Local newsNews

Maskers af!

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het op Woensdag 22 Junie — ná twee jaar en drie maande van verpligte maskers dra — bekendgemaak dat drie stelle Covid-19-regulasies opgehef word.

Die aankondiging volg nadat die vyfde infeksie-golf suksesvol bestuur is.

Landsburgers hoef sedertdien nie meer maskers te dra nie, die beperking op getalle besoekers by saamtrekke is opgehef en niemand het meer nodig om ’n negatiewe Covid-19-toets of ’n bewys van inenting by grensposte te wys nie.

Die Pos het die afgelope week ’n paar inwoners genader oor hoe hulle oor die opheffing voel.

Anne-Marie Joubert en Brianna de Beer, skoonheidsterapeute van die Glamour Express-skoonheidsalon in Bela-Bela, het gesê hulle is dankbaar dat maskers nou iets van die verlede is. Hulle het ook gesê vroue kan nou weer met sorg aan hul voorkoms aandag gee. Dié terapeute het gesê dat daar ’n beduidende toename in velsorgbehandelings is en die verkope van grimering het reeds toegeneem. Op die foto is Joubert en De Beer besig om mekaar se grimering op te knap.
Isabella Kriek en haar hondjie, Max, het met vernuftige planne vorendag gekom om daardie lastige gesigmaskers te herwin. Dit is ideaal om ’n poniestert blitsvinnig in ’n bolla te omtower. Haar hondekind kan, terwyl hy nog klein is, ook ’n bietjie hitte kry met dié oulike hondejassie.
“Die eksamens is verby en die dra van maskers is ook nou uiteindelik verby!” juig Gabby Greef en Zelri Prinsloo op Saterdag 25 Junie. Albei is gr.9-leerders van Hoërskool Nylstroom in Modimolle.
Dié groep matrieks van Hoërskool Warmbad het op die vooraand van hul laaste eksamen vir die tweede kwartaal die goeie nuus ontvang dat Covid-19-inperkings nie afgedwing sal word met hul matriekafskeid nie. Op die foto gooi die groep hul maskers weg kort voor die Julie-vakansie begin het.

Related Articles

Back to top button